Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderwys deur middel van tegnologie
Outeur: Christina Harvett
Gepubliseer: 11/11/2020

Die Telematiese Skole-projek is ‘n gesamentlike projek van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die Universiteit Stellenbosch met die doel om onderwys deur middel van tegnologie te ondersteun. Die hoofdoel van die projek is om leerders bloot te stel aan die beste onderwyspraktyke, wat dan spreek tot die visie van die WKOD van gehalte onderwys vir elke leerder in elke klaskamer in elke skool. Die projek saai interaktiewe lesse uit via satelliet-uitsendings en Internetstroming wat gemik is op leerders in grade 10 tot 12. Die uitsendings is nie bedoel om onderwysers te vervang nie maar om die lesse wat die onderwysers reeds in die klas behandel hette ondersteun en te konsolideer. Onderwysers word ook blootgestel aan nuwe onderwysmetodologieë, wat hulle vaardighede in die klaskamer verbeter. 


Die regstreekse uitsendings vind in die week tussen 15:00 en 17:00 plaas. Alle skole in Suid-Afrika baat by hierdie interaktiewe middag-uitsendings, wat fokus op moeilike konsepte in vyftien kernvakke. Leerders kan vrae aan die aanbieder in die ateljee vra d.m.v. WhatsApp, Facebook, Messenger en e-pos. 

Dié ekstra klasse word almal volgens die landwye KABV-kurrikulum deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gereël en geskeduleer. Klem word gelê op die verduideliking van veral kernkonsepte en die aanspreek van probleemareas waarmee leerders in vorige eksamens kleigetrap het. Die hele kurrikulum word dus nie gedurende die uitsendings behandel nie. 


'n Moniterings- en evalueringsplan vorm deel van die projek. Nie al die provinsies word elke jaar geëvalueer nie, maar gedurende die afgelope nege jaar is daar deur middel van dertien meningsopnames terugvoer van 31 609 leerders ontvang. 

Die leerders het saamgestem dat die Telematiese Skole-projek 'n waardevolle bron van inligting is wat 'n verskil in hulle leerervaring gemaak het. ​