Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Sakeleiers moet hul stemme laat hoor,’ sê Woolworths-baas en USB-adviesraadvoorsitter
Outeur: USB Marketing & Stakeholder Relations
Gepubliseer: 17/05/2016

​​​​Sakeleiers moet ’n stem teen politieke onreg wees, betrokke raak en help om die land se probleme op te los. Om stil te bly – soos sommiges tydens die onstuimige 1980’s gedoen het – sou verkeerd wees.

Só het Simon Susman, voorsitter van Woolworths, verlede Dinsdag (10 Mei) by die Universiteit Stellenbosch se sakeskool (USB) gesê. Susman is lid van die USB se adviesraad en het deelgeneem​ aan ’n paneelbespreking wat prof. Piet Naudé, direkteur van die USB, aangebied het.

“Waardes ontbreek aan die bopunt van die regering en dit filtreer deur na die hele leierskap van die land. Dit is hoofsaaklik eerlike mense daar, maar hulle word deur oneerlike mense omring,” het Susman volgens ’n verklaring gesê.

Desmond Smith, voorsitter van Sanlam, en dr. Ernest Messina, uitvoerende hoof van die AHi, was ook teenwoordig.

Susman sê die regering ontbreek aan ’n “passie vir waardes”. Hy verwys na Woolworths se stel waardes – gehalte, diens, integriteit, energie, innovasie en volhoubaarheid – om aan te toon waar die regering te kort skiet.

“Waar is die passie vir diens? Waar is die passie vir integriteit wanneer almal probeer om iets te verdoesel? Waar is die passie vir waarde en vir ons bevolking? Waar is die passie vir gehalte?”

Susman sê Nenegate – toe pres. Jacob Zuma die minister van finansies vervang het – was ’n poging om die staat buit te maak. “Ons is nog nie buite gevaar nie, maar dit was beslis ’n keerpunt.”

Susman sê in die 1980’s was maatskappye te bang en “het duisend redes gehad om te verskoon en stil te bly”. “Maar ons was verkeerd. Die ergste twee dinge wat ons nou kan doen is om stil te bly, en ons kan nie bekostig om net van buite af te kritiseer nie. Ons moet met so veel mense as moontlik in gesprek tree om denke te verskuif.”

Smith sê nasionale waardes moet vasgelê word in die “DNS van die nasie”.

Messina sê Suid-Afrikaners moet meer met mekaar praat. “Ons moet ook meer bewus wees van wat ons sê en doen, want dikwels is leiers onbewus van die volle uitwerking van hul gedrag.”