Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsers aan US ontwikkel ‘n snel-diagnostiese toets vir TB
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 12/05/2016

'n Snel-diagnostiese toets vir tuberkulose (TB) wat by die versorgingspunt gebruik kan word, is ontwikkel deur 'n span wetenskaplikes van regoor die wêreld onder leiding van navorsers by die Universiteit Stellenbosch.

"Hierdie bekostigbare siftingstoets het die potensiaal om TB-diagnose beduidend te versnel in omgewings met beperkte hulpbronne," sê die mede-uitvinder, prof Gerhard Walzl van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Die toets word gedoen op bloed wat deur 'n vingerprik verkry word. 'n TB diagnose kan dan in minder as 'n uur gemaak word.

"Gesondheidswerkers met minimale opleiding sal die toets op voetsoolvlak kan gebruik en onmiddelike toegang hê tot uitslae," sê Walzl. Die diagnostiese toets is 'n klein instrument wat in die hand pas en met batterye werk. Dit toets chemikalieë in die bloed van mense wat moontlik TB het.

Die toestel is tans in die ontwikkelingsfase en die akkuraatheid en doeltreffendheid daarvan gaan oor die volgende drie jaar in vyf Afrika-lande getoets word deur die ScreenTB-konsortium, 'n groep TB-kenners vanuit agt vennoot-instellings in Afrika en Europa.

Ander onlangse vooruitgang in TB-diagnose het daartoe gelei dat die tydsduur van diagnose wesenlik verminder is, maar die hoë koste en gesofistikeerde toerusting wat benodig word maak dit ontoeganklik vir baie mense.

"Mense in afgeleë gebiede met 'n hoë voorkoms van TB vind geen baat by die nuwe ontwikkelings nie – hulle ervaar lang vertragings met diagnose en moet gereeld veelvoudige besoeke aan die kliniek aflê voordat hulle gediagnoseer word," sê Walzl.

Die nuwe toestel sal amper onmiddelike uitslae lewer wat iemand met TB in staat sal stel om tydens een besoek aan die kliniek of hospitaal gediagnoseer te word en met behandeling te begin.

Foto: Die ScreenTB-konsortium bestaan uit 'n span van die voorste TB-kenners vanuit Afrika en Europa.