Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties bo in Suid-Afrikaanse been van FameLab kompetisie
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 10/05/2016

Vier van die tien finaliste in die Suid-Afrikaanse been van FameLab – een van die grootste wetenskapkommunikasiekompetisies ter wêreld – was studente van die Universiteit Stellenbosch.

In hierdie kompetisie het wetenskaplikes slegs drie minute om 'n wetenskaplike konsep aan die algemene publiek te verduidelik. In 2015 het 5 500 studente uit 25 lande aan die kompetisie deelgeneem.

Savannah Nuwagaba, 'n PhD-student in biowiskunde in die Departement Wiskundige Wetenskappe, en Claude Moshobane, 'n spesialis in biosekuriteit van SANBI wat besig is met 'n internskap by die DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (S·I·B), was naaswenners en het elk R2 500 in prysgeld ontvang. Savannah is ook by die S·I·B geaffilieer. Die wenner, Nozipho Gumbi van die Universiteit van Suid-Afrika, sal Suid-Afrika by die internasionale FameLab kompetisie verteenwoordig wat tydens The Times Cheltenham Science Festival in die Verenigde Koninkryk sal plaasvind.

Die ander US studente was Taime Sylvester van die Departement Biomediese Wetenskappe, en Marli Louw, 'n PhD-student van die Departement Wingerd- en Wynkunde.

Die Suid-Afrikaanse finale ronde het op 4 Mei 2016 by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum plaasgevind. FameLab word ondersteun deur die British Council en die Suid-Afrikaanse agentskap vir die bevordering van wetenskap en tegnologie (SAASTA).

Opsomming van die studente se onderwerpe:

Savannah Nuwagaba (Departement Wiskundige Wetenskappe): Savannah se navorsing wat biologie, sowel as wiskunde gebruik, is daarop gerig om te verstaan hoe die liggaamsgrootte van verskillende diere geaffekteer word deur die tyd wat dit hulle neem om hulle prooi te vang, eet en te verteer. Omdat hierdie prosesse temperatuurafhanklik is, is hierdie navorsing van belang, gegewe die huidige klimaatsveranderingsdebat.

Claude Moshobane (DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie): Claude is verantwoordelik vir die ontwikkeling van spesifieke risikobepalings en die uitvoer van risikobepalings vir gereguleerde spesies in Suid-Afrika.

​Marli Louw (Departement Wingerd- en Wynkunde): Marli se navorsing fokus op Brettanomyces bruxellensis, oftewel Brett, 'n tipiese gis wat rooiwyn bederf. Sy poog om te verstaan hoe en waarom Brett weerstandig is teen swaeldioksied, die mees algemene preserveermiddel wat in wyn gebruik word.

Taime Sylvester (Departement Biomediese Wetenskappe): Taime ondersoek tuberkulose onder Afrika-leeus, en fokus op hoe die siekte hulle immuunrespons affekteer. In ag genome dat leeus vir jagdoeleindes en kommersiële gebruik geteel word, is hulle nie 'n besonder bedreigde spesie nie. Die leeus wat egter wild in die natuur voorkom, is besig om skaarser te word. Haar navorsing kan help om ekologiese besluite te neem ten opsigte van die bewaring van hulle in hulle natuurlike omgewing.