Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vyf nuwe spesies fluweelwurms uit Suid-Afrika
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 07/05/2016

Vyf nuwe spesies van die enigmatiese fluweelwurm ‒ een van die mees antieke geleedpotiges wat nog steeds in Suid-Afrika se mistige woude voorkom ‒ word beskryf in 'n nuwe studie wat onlangs in die vaktydskrif Cladistics gepubliseer is.

Hedendaagse fluweelwurms word beskou as lewende fossiele aangesien hulle bykans identies is aan hulle voorsate (die Onychophora) wat 550 miljoen jaar terug op die antieke superkontinent Gondwana voorgekom het. Suid-Afrika is die tuiste van twee antieke fluweelwurmfamilies – Peripatopsis en Ophistopatus. Terwyl onlangs navorsing oor Peripatopsis nege nuwe spesies opgelewer het, was daar tot nou toe min sistematiese ontleding van die evolusionêre verhoudings binne Opisthopatus.

Prof. Savel Daniels, 'n evolusionêre bioloog van die Universiteit Stellenbosch en een van Suid-Afrika se voorste kenners op die gebied van paleo-diere, het nou van die nuutste molekulêre tegnieke toegepas op 184 monsters van die genus Opisthopatus cinctipes wat hy in 47 woudareas in die berge van KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Oos-Kaapse kusstrook opgespoor het. Die genetiese analise van hierdie monsters is ook vergelyk met monsters van die twee endemiese susterspesies, O. roseus en O. herbertorum.

Hy het bevind dat dié spesies eintlik uit vyf verskillende spesies bestaan, elk endemies tot die area waar hulle voorkom. Die vyf nuwe spesies is O. drakensbergi, O. kwazululandi, O. amaxhosa, O. highveldi en O. swatii.

Prof. Daniels verduidelik dat dierkundiges vroeër aangeneem het dat die fluweelwurms van dieselfde spesies moet wees omdat hulle dieselfde lyk én in woude al langs die Suid-Afrikaanse kus voorkom. "Ons genetiese analise wys nou daarop dat die wurms se oervoorouers vanuit die binneland afkomstig is. Dit beteken dat die woude eerder vanaf die binneland na die kus moes gestrek het, en dat daar nie noodwendig altyd een aaneenlopende woud kuslangs was nie."

Dit het bykans ses jaar se veldwerk geneem om al die monsters in te samel, sowel as nog vier jaar om die genetiese analise in die laboratorium te voltooi, voordat hy die resultate kon bekend maak.

Dis welbekend dat dit baie moeilik is om hierdie 1cm lange antieke diertjies met hulle 16 pootjies wat soos knuppels lyk, op te spoor. Hulle skuil die meeste van hulle leeftyd in klam grond, in verrottende hout of onder gevalle boomstompe.

"Jy moet baie passievol wees oor jou goggas om hierdie tipe navorsing te kan doen!" skerts hy vanuit sy kantoor by die Departement Plant- en Dierkunde aan die US.

Hy het selfs eenkeer van 'n vriend se troue op 'n plaas in Tulbagh af weggeglip nadat hy 'n lappie donkergroen woud hoog op in die berg raakgesien het. Drie uur later het hy triomfantlik teruggekeer met 'n fluweelwurmspesie wat toe nog ongeïdentifiseerd was.

"Daar is waarskynlik steeds verskeie ongeïdentifiseerde fluweelwurms wat rondkruip in hoogliggende woudgebiede, weggesteek in die voue van die Kaapse Plooiberge," voeg hy by.

Intusssen is 'n MSc-student in sy navorsingsgroep besig om die inligting te finaliseer wat benodig word om die nuutontdekte spesies op die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) se Rooidatalys van bedreigde spesies te laat registreer.

"Ons resultate het 'n magdom van taksonomiese diversiteit blootgelê in hierdie gefragmenteerde wouddele. Hierdie asemrowende mooi woude is swak bestudeer, maar die tuiste van unieke en dikwels antieke habitatspesialiste soos die fluweelwurm."

Volgens prof. Daniels sal die kosbare wouddele waar hierdie unieke fluweelwurms voorkom, ook beskerm moet word.

Tans beslaan woude slegs 0,56% van Suid-Afrika se oppervlak. Ongeveer die helfte van hierdie woude (46%) is in die Oos-Kaap geleë.

Waarom is fluweelwurms so uniek?

Soos die onuitroeibare mosbeertjies (Tardigrades), word hedendaagse fluweelwurms beskou as 'n afsonderlike lyn (met 'n eie filum) van evolusie wat onafhanklik uit 'n langvergete mariene voorvader ontstaan het ‒ waarskynlik die Hallicogenia. Fossiele toon dat moderne fluweelwurms nie veel van hul antieke voorouers, wat ongeveer 540 miljoen jaar gelede gelewe het, verskil nie. Dit beteken dat "Onycophorans" al sedert die prehistoriese tyd, die sogenaamde Kambriese tydperk, op aarde voorkom. Deesdae leef fluweelwurms op land en kom hulle slegs voor in klam, vogtige habitatte wat vroeër deel was van die antieke superkontinent, Gondwana.  

 

Onderskrifte

Foto's van lewende fluweelwurms (Opisthopatus) wys op die kleurverskille tussen die bekende en die nuwe spesies.

A_O.roseus_photocredit.jpg

[A_O. roseus.jpg]

Opisthopatus roseus (vir die eerste keer in 1947 deur Lawrence beskryf) in die Ngele woud, KwaZulu-Natal. Foto: Dai Hebert

C_O.drakensbergi.jpg

[C_O. drakensbergi.jpg]

Opisthopatus drakensbergi sp. nov., van Cathedral Peak Natuurreservaat, KwaZulu-Natal. Foto: Gonzalo Giribet

D_O.highveldi.jpg

[D_O. highveldi.jpg]

Opisthopatus highveldi sp. nov., van Graskop in Mpumalanga. Foto: Dai Hebert

E_O.amaxhosa.jpg

[E_O. amaxhosa.jpg]

Opisthopatus amaxhosa sp. nov., van Nocu in Oos-Kaap. Foto: Dai Hebert

F_O.kwazululandi.jpg 

[F_O. kwazululandi.jpg]

Opisthopatus kwazululandi sp. nov., van Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Foto: Dai Hebert

 (Goeie kwaliteit foto's is beskikbaar op versoek - science @sun.ac.za)

Kontakbesonderhede

Prof. Savel Daniels

Departement Plant- en Dierkunde

Universiteit Stellenbosch

Tel: +27 _21 808 3230

E-pos: srd@sun.ac.za

 

Uitgereik deur Wiida Fourie-Basson, Media: Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, science@sun.ac.za, 021 808 2684