Vroue is moeg daarvan om vir verkragting geblameer te word en weier om langer hieroor stil te bly, skryf prof Amanda Gouws van die Departement Politieke Wetenskap in haar gereelde rubriek in Die Burger op Dinsdag (3 Mei 2016).
Amanda Gouws
Verlede Donderdag het Stellenbosch Universiteit sy tweede "topless" protes op kampus gesien toe vrouestudente hulself ten sterkste teen 'n verkragtingskultuur op kampus uitgespreek het. Die protes was ook in solidariteit met die "RUReferencelist" – die lys van 11 name van sogenaamde verkragters by Rhodes Universiteit, waar vrouestudente ook 'n "topless" protesteer het.
Hierdie tipe protes steun op protes teen verkragtingskultuur aan Amerikaanse universiteite en die "Femen verskynsel" wat in die Ukraïne begin het. Femen is 'n groep feministe wat nakend en slegs in hul broekies met slagspreuke geskryf op hul liggame teen die behandeling van vroue protesteer. Hulle het hul protes na baie Europese lande geneem. Die vraag is of hul protes die regte boodskap oordra en of hulle eerder deur mans gesien word as seksobjekte en die protes dus kontraproduktief is.
'n Verkragtingskultuur is omstandighede wat bydra dat verkragting genormaliseer word. Op universiteitskampusse gaan dit oor houdings, oortuigings en koshuispraktyke waardeur vroue met 'n gebrek aan respek behandel word, verneder word en hul menswaardigheid aangetas word. Hierdie tipe omstandighede normaliseer dan verkragting omdat geslagsgeweld nie ernstig opgeneem word nie en vroue dikwels vir verkragting geblameer word. Dit maak dit ook moeiliker vir vroue om verkragting aan te meld.
'n Verkragtingskultuur koop in verkragtingsmites soos die volgende in: hoekom was sy so laat uit op straat?, hoekom het sy 'n kort rokkie aan gehad?, hoekom het sy gedrink? sy het daarvoor gesoek ens. Die Zuma verkragtingsaak was 'n klinkklare voorbeeld van verkragtingsmites toe mense (baie vroue) voor die hof gesing het "burn the bitch" en die slagoffer se foto verbrand het en haar met klippe gegooi het. Sy was die een wat tereggestaan het – nie Zuma nie. Die aanklaer het haar 'n "serial rape accuser" genoem wat nie die verskil tussen instemming en nie-instemming geken het nie. Die uitgangspunt is dat die verkragting NIE plaasgevind het nie, eerder as dat dit wel plaasgevind het.
Dit is dikwels die situasie wat homself in die hof afspeel en dit is hoekom baie vroue nie verkragting aanmeld nie. Carol Smart in haar 1989 boek The Power of Law, skryf oor hoe die reg in die geval van vekragting vroue se ervarings diskwalifiseer, hulle as leuenaars verklaar en hulle verneder, terwyl die oortreders dikwels letterlik wegkom met verkragting.
"Date rape" op kampusse kom algemeen voor, maar min gevalle word aangemeld omdat vrouestudente hulself dikwels daarvoor blameer dat hulle in hierdie situasie beland het waar "nee" geinterpreteer is as "ja". Hulle vertrou nie kampusprosedures om hulle te glo nie. Dit is die kondisies onderliggend aan verkragtingskultuur en vroue is nie langer bereid om stil te bly nie, omdat van hierdie oortreders saam het hulle in klasse sit.
Vanuit 'n regshoek is die bekendmaking van name van sogenaamde verkragters egter hoogs problematies omdat iemand onskuldig is totdat hy skuldig bevind word in 'n hof en dit kan jare neem. Intussen kan vroue wat beskuldigings maak voor die hof gedaag word vir laster of naamskending. Die Rektor van Rhodes het die woede van studente ervaar toe hy gesê het dat mans wie se name op die lys verskyn nie oorhandig sal word sodat hulle "gename en geshame" kan word nie.
Verkragting verwoes vroue se lewens. Valse beskuldigings doen dit ook. Vroue is moeg daarvan om geblameer te word. Hulle sê: "moenie vroue leer om verkragting te verhoed nie – leer mans om nie te verkag nie". Totdat baie mans leer dat hulle nie geregtig is op seks aan die einde van 'n afspraak nie sal verkragtingskultuur 'n probleem bly.