Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nie alle SA lemoensappe is ewe gesond nie
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/05/2016

Navorser vra wysingings in wetgewing oor vrugtesappe, etikettering daarvan

Jy drink daai glasie lemoensap vir jou gesondheid, reg? Dink weer. Nie alle Suid-Afrikaanse lemoensappe op die rak is almal ewe gesond nie. Dit hang onder meer af van waar die lemoene kom wat daarin gebruik is, watter variëteit gebruik is en of die sap vars gedruk of van konsentraat gemaak is.

So vertel dr Cindy Hunlun, wat die eerste ondersoekende studie van sy soort in die land oor die inhoud en gesondheidswaarde van Suid-Afrikaanse lemoensap gedoen het. Dr Hunlun het in Maart haar doktorsgraad in Voedselwetenskap hieroor aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf.

Hunlun het self vyf jaar in die sapbedryf gewerk voordat sy as dosent by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KPUT) aangestel is, en daarna weldra met haar doktorsgraad begin het. Haar hoofstudieleier was dr Gunnar Sigge van die US Departement Voedselwetenskap. Hy is bygestaan deur dr Dalenede Beer en prof Jessy van Wyk.

Volgens dr Sigge word heelwat werk in die landboubedryf gedoen oor die verbouing en verpakking van sitrusvrugte, maar plaaslike navorsing oor die gesondheidswaarde daarvan is minimaal. Tot sowat 2 miljoen ton lemoene word jaarliks in Suid-Afrika vir die uitvoermark en vir plaaslike gebruik geoes. Heelwat hiervan word ook verwerk tot produkte met toegevoegde waarde, soos lemoensap.

As deel van haar navorsing het dr Hunlun die chemiese en fenoliese inhoud (wat onder meer voedingswaarde beïnvloed) fyn ondersoek van drie lemoenvariëteite waarmee daar grootskaals in Suid-Afrika geboer word. Dit is die variëteite Mandaryn, Navel en Valencia. Sy het ook die inhoud vergelyk van gevriesde lemoenkonsentraat, die sap wat weldra daarvan gemaak word, en sap wat vars uitgedruk is. Die antioksidantvlakke daarvan, wat 'n maatstaf van goeie gesondheidswaarde is, is ook van elkeen vasgestel.

Sy het lemoensapmonsters van twee verbouingstreke (die Wes- en Oos-Kaap) oor drie seisoene heen ingesamel. Dit is ontleed om vas te stel watter invloed variëteit, seisoene en verbouingstreke op die inhoud van die vrugte kan hê. Die wyse waarop vrugte hanteer word nadat dit geoes is, kan dit ook beïnvloed.   

Dr Hunlun het onder meer bevind dat die antioksidantwaarde van Oos-Kaapse lemoene hoër is as dié vanuit die Wes-Kaap, en dat dit meer voedingswaarde het. Hierdie aspekte is ook hoër in plaaslik geproduseerde Navel- en Valencialemoene as in Mandaryne.

Die meeste lemoensappe op Suid-Afrikaanse winkelrakke word van lemoensapkonsentraat gemaak wat gevries en dan verkoop word aan sapmakers. Dr Hunlun het bevind dat sap wat van konsentraat gemaak word heelwat minder gesondheidswaarde het as dié wat varsgedruk word. Varsgedrukte lemoensap geniet onder meer hoër fenoliese vlakke en bevat meer antioksidante as konsentraatweergawes.

"As jy agter die maksimum hoeveelheid gesondheidswaarde in 'n glasie lemoensap is, is dit die beste om varsuitgedrukte lemoensap te drink," reken dr Hunlun.

Daarby hang die gesondheidswaarde van lemoensap gemaak van gevriesde konsentraat ook af tot watter mate dit met die sap van ander vrugte verdun word.

Die formulasies van sappe word volgens wetgewing bepaal. Daarvolgens mag die sap van 'n spesifieke soort vrug (byvoorbeeld lemoen) verdun word met die sap van 'n ander (byvoorbeeld appel-, peer- of druiwesap), maar steeds as die oorspronklike 100% lemoensap versnit verkoop word.

"In die proses verloor so 'n drankie egter baie van die gesonde eienskappe wat verbruikers aanvaar deel is van 'n sap gemaak van 'n spesifieke soort vrug," reken dr Hunlun.

Sy glo daarom dat wetgewing moet verander om verbruikers te beskerm. Dit is deels omdat nie almal weet hoe om produketikette waarop hierdie verdunning aangedui word genoegsaam te lees of te verstaan nie.

Uitgereik deur die Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch agric@sun.ac.za