Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ses eienskappe om te lei in omgewings wat vatbaar is vir konflik
Outeur: Amber Kriel
Gepubliseer: 03/05/2016

Prof Brian Ganson, hoof van die Afrika-Sentrum vir Dispuutbeslegting by die USB, sê daar is ses eienskappe wat leiers nodig het om te lei in omgewings wat vatbaar is vir konflik. Hy het ʼn Leader's Angle op Vrydag, 22 April 2016 aangebied.

Hy het in sy navorsing ses leiereienskappe geïdentifiseer wat nodig is vir konflikvoorkoming en konflikoplossing.

Hierdie eienskappe is:

  1. Nuuskierigheid
  2. Kontekstuele begrip
  3. Sin van verantwoordelikheid
  4. Streng noukeurigheid
  5. Gesamentlike gedagtes
  6. Organisatoriese vaardigheid.

Hy omskryf konflik-sensitiewe, broos omgewings as omgewings met sosio-politieke spanning soos uiterste armoede en nalatenskap van die verlede wat veroorsaak dat spanning hoog is. Dit is ook komplekse omgewings waar die sosio-politieke infrastruktuur onvoldoende is en magsverhoudinge en institusionele reëlings maak dat probleme moeiliker is om op te los.

Ganson het gesê investering in hierdie plekke is besig om toe te neem. "Groot investerings in die mynbedryf sal waarskynlik in die volgende tien jaar toeneem. Maar op dieselfde noot is die sosio-politieke spanning aan die toeneem - 87 lande staar vooruitsigte van potensiële geweld, geen groei en terugval in geweld in die gesig," het hy gesê.

Die koste van ondernemings in hierdie omgewings van konflik is enorm, het hy bygevoeg. Lonmin PLC se aandeelprys het 30% binne ʼn week gedaal tydens die 2012-slagting van werkers wat protesteer het by die Marikana-platinummyn. Die daaropvolgende vyf maande se stakings het daartoe gelei dat Lonmin, Anglo American Platinum en Impala Platinum ʼn gekombineerde VSA $2.25 miljard in inkomste verloor het.

Maar die koste wat dit vir die samelewing inhou, is nog groter. "Teen 2030, selfs in die beste omstandighede, sal 62% van die globale armes in hierdie omgewings van konflik woon. Dit kan soveel as 500 miljoen mense insluit wat op minder as $1.25 per dag leef," het hy gesê.

"Ons moet konflik-sensitiewe omgewings reg bestuur. Ondernemings is die skrywers van hul eie risiko."