Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stygende koolstofvlakke, klimaatsverandering vernietig ekosisteme en biodiversiteit
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 27/04/2016

Stygende koolstofvlakke in die atmosfeer en klimaatsverandering kan op die lange duur ʼn vernietigende impak op ekosisteme en biodiversiteit hê.

Dit was een van die gevolgtrekkings van prof Guy Midgley van die Departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch in sy intreerede op Maandag (25 April 2016).

Midgley het gepraat oor die ernstige bedreiging wat klimaatsverandering inhou en gesê ons beweeg al hoe nader aan die randjie van die afgrond. Hy het bygevoeg dat data vir die eerste drie maande van 2016 wys op ʼn skerp styging in temperature wêreldwyd.

"Die styging in temperature wêreldwyd is besig om ernstige afmetings aan te neem. Indien ons ʼn vooruitskatting doen, is ons op koers om die historiese basislyn met 1.4°C te oorskry."

'Dit is ʼn buitengewone statistiek omdat die Internasionale Paneel van Klimaatsverandering (oftewel die IPCC) aangedui het dat 2°C ʼn gevaarlike vlak van klimaatsverandering is."

"Die IPCC meen indien ons voortgaan om fossielbrandstowwe te gebruik, ekosisteme binne ʼn paar eeue sover as 40-50 miljoen jaar teruggeneem kan word. Dit kan alles omtrent die wyse waarop ons wêreld funksioneer verander."

Midgley.JPGMidgley het gesê die negatiewe uitwerking van stygende koolstofvlakke in die atmosfeer en klimaatsverandering op ekosisteme kan reeds in sekere dele van die wêreld waargeneem word.

"Een van die mees ontstellende dinge wat die afgelope klompie maande gebeur het is die verbleiking van die Groot Koraal-rif in Australië." Verbleiking van koraal-riwwe vind plaas wanneer korale hul kleur verloor en wit raak as gevolg stres wat deur warmer temperature en oormatige sonlig veroorsaak word.

Volgens Midgley het die IPCC reeds in 2007 voorspel dat dit sou gebeur indien globale aardverwarming onverpoos sou voortduur.

Hy het diegene gekritiseer wat nie besorgd is oor die risiko's wat ons weens stygende koolstofvlakke en klimaatsverandering in die gestaar nie.

Midgley het gesê hoewel hulle aanvoer dat klimaatsverandering niks nuut is nie, dit vir die laaste 800 000 jaar ten minste vyf grade koeler was voordat ons fossielbrandstowwe begin gebruik het.

"Ons moet amper so ver as vier tot vyf mijoen jaar terug gaan om dieselfde koolstofvlakke te bereik as wat ons tans het as gevolg van fossielbrandstowwe. Om te sê klimaatsverandering het nog altyd plaasgevind en koolstofvlakke is nie ʼn probleem nie, is ʼn totale verdraaïng van die historiese rekord."

Die implikasies van stygende koolstofvlakke word regtig onderskat, het Midgley gesê.

  • Foto 1: Die Groot Koraal-rif wat weens klimaatsverandering verbleik het. (Flickr)
  • Foto 2: Profs Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Guy Midgley en Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, by die intreerede. Fotograaf: Justin Alberts