Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vryheid wat bly ontwyk
Outeur: Chris Jones
Gepubliseer: 27/04/2016

​Vandag (27 April) vier ons Vryheidsdag. In ʼn meningsartikel in Die Burger (Dinsdag 26 April 2016), skryf dr Chris Jones van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch dat miljoene Suid-Afrikaners ná meer as twee dekades van demokrasie steeds nie werklik vry is nie.

  • Lees die volledige artikel hier onder of klik hier vir die artikel soos gepubliseer.

Miljoene SA'ners steeds nie vry ná twee dekades

Chris Jones

Elke jaar op 27 April vier ons Vryheidsdag om ons land se eerste demokratiese verkiesing in 1994 te herdenk. Maar dié dag gaan egter oor meer: dit bied die geleentheid om na te dink oor ons voortuitgang sedertdien en die vele uitdagings wat ons in die gesig staar.  

Ons het in vele opsigte reuse spronge gegee sedert 1994, maar ons het steeds ʼn lang pad om te reis. Daar is nog soveel boeie wat ons bind.

Vandag staan talle huishoudings op die rand van ineenstorting weens 'n tekort aan die nodige bestaansmiddele en word gekenmerk deur ongelyke magsdinamika, gebaseer op manlikheid en ouderdom. Hulle is selde in staat om op hul eie die effek van armoede uit te wis.

Die druk wat op hierdie huishoudings uitgeoefen word deur werkloosheid, HIV/Vigs asook drankmisbruik, dwelmgebruik en ongewenste tienerswangerskappe, is enorm en bedreig hul voortbestaan.

Disfunksionele families en skole (tot soveel as 80%) asook toksiese woonbuurte is aan die orde van die dag. Ons kinders word produkte van hierdie omstandighede.

ʼn Praktiese voorbeeld van waar hierdie situasie homself op tragiese wyse uitspeel is die Kaapse Vlakte.

Kaapstad en omgewing is nie net van die mooiste in die wêreld nie –  dit is ook gevaarlik. Bendes beheer sekere gebiede met ʼn ysterhand en verkoop sonder vrees heroïen, kokaïen en tik. Verder verloor onskuldige mense bykans daagliks hul lewens weens die voortslepende bendegeweld. In hierdie broeiplek vir kriminele netwerke en onwettige ekonomieë is dit glad nie verbasend dat soveel jongmense, in die afwesigheid van positiewe rolmodelle, by bendes aansluit nie.

In sy mees onlangse boek, Gang Town, wys die joernalis en skrywer Don Pinnock daarop dat een uit elke drie jongmense op die Kaapse Vlakte tussen die ouderdomme 10 en 24 deur ʼn enkelouer versorg word. Amper ʼn miljoen kinders word hier sonder ʼn Pa groot. Ongeveer ʼn kwart hiervan word deur familielede, wat nie hul ouers is nie, groot gemaak (gewoonlik oumas), terwyl bykans 4%  by mense wat nie familie is nie woon.

Groot hoeveelhede van hierdie kinders woon saam met rolmodelle van twyfelagtige karakter. Volgens die Western Cape Youth Development Strategy (2013 verslag) het ʼn kwart van jongmense onder 18 ʼn familielid wat in die tronk is; net minder as ʼn kwart het familielede wat dwelms gebruik; 15% het ʼn familielid wat aan ʼn bende behoort, en ongeveer 15% huishoudings het geen werkende volwassene nie.

Baie kinders op die Kaapse Vlakte word gebore in ʼn lewe van armoede wat betref inkomste, bronne, geleenthede en stimuli. En dit is nie asof hul situasie later veel verander nie. Van Kaapstad se 3.7 miljoen inwoners is ongeveer ʼn kwart van alle volwassenes en net minder as die helfte van jongmense onder 25 werkloos.

In 2013 het een uit elke vyf persone in ʼn selfgeboude plakkershut gewoon en in meer as ʼn derde van alle Kaapse huishoudings staan vroue aan die hoof.

Wat Suid-Afrika in sy geheel betref, lyk die prentjie nie veel beter nie. Bykans 31.8% van die bevolking  werk in die nie-formele sektor, en 27.3% huishoudings is afhanklik van staatstoelae. Verder ly 18.8% van volwassenes en 12.3% van kinders daagliks honger. Ongeveer 30% swart persone en een uit elke vier bruin mense het nie gereelde toegang tot gesonde kos nie.

Hoewel die situasie tans beroerd lyk, kan dit egter verander indien grootskaalse ekonomiese en sosiale transformasie spoedig plaasvind.

ʼn Goeie plek om te begin is ons welsynsdienste en sosiale beleid wat herstruktureer sal móét word. Veral die beleid rakende toelaes omdat dit nie daarin slaag om die werklike oorsake van armoede en ongelykheid aan te spreek nie. Hoewel toelaes 'n klomp huishoudings regtig help om te oorleef, word dit egter ook misbruik.

Ons sal ook harder daaraan moet werk om ʼn samelewing te skep wat genoegsaam reg laat geskied aan al die opofferings wat vir vryheid gemaak is.

Politieke vryheid moet neerslag vind in ekonomiese groei vir die armes in ons land. Grondwetlike woorde op papier beteken bitter min as dit nie in dinge soos basiese dienste, infrastruktuur, goeie paaie, funksionele onderwys, maatskaplike sekerheid, effektiewe gesondheidsorg en kosvoorsiening aan behoeftiges neerslag vind nie.

Ná meer as twee dekades van demokrasie is vryheid vir miljoene Suid-Afrikaners net ʼn hersinskim omdat hulle steeds in ʼn sosio-ekonomiese en maatskaplike moeras vasgevang is.

Dalk bied die woorde van die Amerikaanse diplomaat Priscilla Clapp hierdie Vryheidsdag stof tot nadenke. Volgens die oud-politikus Leon Wessels het sy in 2009 tydens ʼn gesprek die destydse onderhandelingsproses soos volg opgesom: "Daardie era was teater. Dit was nie die werklikheid nie".

Vandag is die vraag of ware vryheid  uiteindelik vir miljoene Suid-Afrikaners ʼn werklikheid sal word.

*Dr Chris Jones is ʼn teoloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.