Twee studente van die Fakulteit Opvoedkunde het onlangs die Universiteit Stellenbosch se jaarlikse Eerstejaars-prestigedinee bygewoon.
Cari Fourie, oudleerder van die Hoërskool Outeniqua, en Liné Els wat aan die Hoërskool Overberg gematrikuleer het, was deel van 'n groep van 32 studente wat by dié funksie vereer is. Die groep is saamgestel uit 30 studente wat in 2015 in hul eerste jaar was en in hul onderskeie fakulteite die beste gevaar het in die 2015 eindjaareksamen, asook twee Verlengde Graadprogram- (VGP-) studente.
Elkeen van die studente is gevra om die dosent wat die grootste bydrae tot hul akademiese sukses tydens hul eerste jaar gelewer het, na die dinee uit te nooi.
Cari is baie dankbaar dat sy na hierdie geleentheid genooi is en sê dit is 'n groot voorreg om onderwys by die Universiteit Stellenbosch te studeer. Sy het bygevoeg dat studente se sukses hand-aan-hand loop met die dosente se suksesvolle fasilitering om hulle as onderwysers op te lei en dat sy ook baie by haar mede-onderwysstudente leer.
Cari het vir Tarina Nel gekies as die dosent wat die grootste impak op haar sukses gehad het.
"Ek was aangenaam verras met die toekenning," het Nel gesê.
"Ek het verlede jaar begin klas gee en het geen kennis gedra van hierdie tipe toekenning nie. Dit was vir my 'n voorreg om te belê in die studente, my hulp aan te bied en ekstra leergeleenthede te skep. Sonder twyfel is dit lekker om erkenning te ontvang, maar hierdie erkenning moet, volgens my, bloot 'n vrug van harde werk wees.
"Ek het van die prestige-aand af weggestap met een doel voor oë, 'n vraag: hoe kan ek verbeter om tot selfs nog meer studente se akademiese sukses by te dra? Ek is passievol oor onderwys en die fakulteit en glo geluk in my beroep gaan saam met die vaardigheid om dit besonder goed te kan doen."
Liné was uit die veld geslaan toe sy hoor dat sy een van 2015 se toppresteerders is.
"Dit is absoluut danksy God se genade en seën, en natuurlik ook harde werk. Ek beskou dit as 'n groot eer. Kinders was nog altyd my passie en daar was by my geen twyfel die dag toe ek moes aansoek doen vir 'n studierigting nie," het sy bygevoeg.
Haar boodskap aan dr Bernard Rhodes was: "U het my laat glo ek kan op water loop, deur my passie vir kinders en die onderwys weer te ontdek. Waar ek as groen eerstejaartjie nog self soos 'n onervare kind gevoel het, kan ek nou nie wag om 'n "juffrou" te word nie!"
Bernard Rhodes meen dis 'n aangename voorreg om gekies te word as 'n rolspeler wat 'n student se sukses beïnvloed het.
"Liné Els se woorde aan my was van die treffendse woorde wat 'n student in my 35 jaar van onderrig aan my gesê het. Daar is nou by my 'n groter besef van die invloed wat '֦n geïnspireerde opvoeder op sy studente kan hê."
Foto: Dr Bernard Rhodes (dosent), Liné Els, dr Anthea Jacobs (Sentrum vir Onderrig en Leer), Cari Fourie, Tarina Nel (dosent) en prof Arend Carl (Visedekaan: Onderrig).
Foto geneem deur Anton Jordaan, SSFD