Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
USB professor se nuwe boek oor strategiese bestuur bekendgestel
Outeur: Amber Kriel
Gepubliseer: 26/04/2016

Prof Marius Ungerer, lektor in Strategiese Bestuur by die USB, was die mede-skrywer van ʼn boek, Crystallising the Strategic Business Landscape, wat op Dinsdag, 19 April 2016 by die bestuurskool bekendgestel is.

Hy sê die boek is gemik op ʼn nuwe module, Integrated Case Studies, wat deel van die nuwe formaat van die MBA-program vorm. "Die boek is oor die kristallisering van die strategiese landskap, wat beteken dit handel oor analise-raamwerke om ons te help om ʼn feite-basis oor ons omgewing te skep," sê hy.

"Die boek beskryf ook ʼn ontledingsbenadering tot die interne omgewing en bied gereedskap om die verskillende voornemens te sintetiseer. Die boek bied die leser 70 analise-raamwerke aan wat op ʼn praktiese manier gebruik kan word om die onderwerp toeganklik vir almal te maak."

Hy gaan voort: "Ons leef in ʼn era waar almal kitsoplossings wil hê en daar ʼn oorvloed van inligting is. Maar ons leef ook in ʼn era waar baie swak besluite geneem word. Hierdie boek sal ons help met die gehalte van ons besluitneming; om te dink oor hoe ons dink; om nie net te fokus op kitsoplossings nie, maar om te kyk na die oorsake van dilemmas. Die boek gaan oor die skep van ʼn feit-gebaseerde benadering tot strategiese besluitneming."

Vir hom is strategiese bestuur gebaseer op twee pilare. "Die een pilaar is ons vermoë om goeie besluite te neem. Die tweede pilaar is ons vermoë om daardie keuses uitstekend uit te voer.

"Strategiese sukses kom van dié twee dinge: ons vermoë om goeie strategiese keuses te maak en tweedens, ons vermoë om daardie keuses uit te voer," sê hy.


Hy noem drie kritieke elemente van strategiese bestuur wat leiers reg moet kry:​

  1. Leiers moet fokus om te werk met goeie inligting en uitstekende prosesse sodat hulle goeie strategiese keuses kan maak.
  2. Leiers moet konsentreer op hul vermoë om nie net korttermyn te dink nie, maar ook om ʼn langtermyn te dink.
  3. Leiers moet die vermoë hê om resultate te verkry. Dié maatskappye en leiers wat by hul besluite bly en wat mense om hulle motiveer om deel van die strategiese sukses van ʼn maatskappy te word, is uiteindelik die wenners.