Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dit is in ons vermoë om die immunisasie-gaping te oorbrug
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 21/04/2016

"Oorbrug die Immunisasie-gaping" is die tema vir Wêreld Immunisasie-week wat van 24 tot 30 April herdenk word. Ten spyte van doeltreffende inentings, sterf daar jaarliks sowat 1.5 miljoen kinders van regoor die wêreld, insluitend Suid-Afrika, aan voorkombare siektes.

Drie uit elke 10 Suid-Afrikaanse kinders kry nie al hul inentings nie en is kwesbaar vir dodelike siektes wat maklik voorkom kon word.

"Immunisasie is een van die suksesvolste en goedkoopste maniere om kinders se lewens te red en hulle te help om gesonde volwassenes te word," sê prof Charles Wiysonge, adjunk-direkteur van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

"Immunisasie is belangrik in alle stadiums van 'n mens se lewe, want dit help kinders en jongmense om infeksies af te weer en herstel verswakkende immuniteit in volwassenes. Buiten die voordele aan die persoon wat die inenting ontvang, help immunisasie ook om sy of haar familie, vriende, en die wyer gemeenskap te beskerm."

Na raming voorkom immunisasie elke jaar meer as drie miljoen sterftes wêreldwyd weens masels, kinkhoes, tetanus (klem-in-die-kaak), difterie, longontsteking, en diarree..

"Een uit vier kinders in Afrika ontvang nie al die inentings wat hy of sy benodig nie," sê Wiysonge. Hy dien op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Strategiese Raadgewingsgroep van Kundiges oor Inenting, asook die Afrika-taakgroep vir Inenting. "Slegs 70% van Suid-Afrikaanse kinders ontvang al hul inentings – dit is minder as die gemiddeld vir die hele Afrika suid van die Sahara, wat rondom 77% geskat word deur die WGO en die Verenigde Nasies se Kindernoodfonds (UNICEF)."

Daar is verskeie redes waarom kinders nie al hulle inentings ontvang nie. "Oor die algemeen is die kinders wat nie toegang het tot inenting in Afrika nie gemarginaliseerd, woon in onderbediende landelike of afgeleë gebiede, of minderbevoorregte stedelike areas. Boonop is daar ook 'n ontluikende verskynsel in gegoede stedelike gebiede in Suid-Afrika bekend as 'inentingsweifeling', waar mense slegs sommige inentings aanvaar en huiwerig is om dit op te neem, of moontlik alle inentings verwerp," sê Wiysonge.

"Dit is in ons vermoë om die immunisasie-gaping te oorbrug. Toenemende politieke en finansiële ondersteuning van regerings in Afrika word benodig om die huidige prestasie te handhaaf en vordering te maak. Ouers, toesighouers, jongmense, volwassenes, en gesondheidswerkers moet ook besef hoe belangrik dit is om inentings op datum te hou," sê Wiysonge.

 

INENTING-VOORKOMBARE STERFTES

1.5 miljoen kinders sterf elke jaar aan siektes wat deur inentings voorkom kon word. Dit sluit in:

  • 476 000 sterftes weens longontsteking
  • 453 000 sterftes weens rotavirus-diarree
  • 199 000 sterftes weens Haemophilus influenzae tipe b
  • 195 000 sterftes weens kinkhoes
  • 118 000 sterftes weens masels
  • 59 000 sterftes weens tetanus onder pasgeborenes

 

INENTING SUKSES STORIE

Masels het voorheen miljoene kinders se lewens geëis, en in sommige dele van Afrika was daar 'n gesegde dat jy nie jou kinders kan tel voordat masels gekom en gegaan het nie. Bespoedigde inentingsaktiwiteite het 'n groot impak gehad op die voorkoming van sterftes weens masels. Na raming het die aantal masels-steftes in kinders onder vyfjarige ouderdom afgeneem van 500 000 in 2000 tot ongeveer 100 000 in 2015, m.a.w. 'n 80% afname in kindersterftes. Daar word geskat dat die masels-inenting meer as 17 miljoen sterftes voorkom het tussen 2000 en 2014.

 

Foto: Prof Charles Wiysonge