Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Historiese oorsig van eerste ekspedisie na SA se mees suidelike eilande
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 19/04/2016

Die 50ste herdenking van die eerste biologiese en geologiese ekspedisie na Marion en die Prins Edward Eilande in 1965/66, sal gevier word met die bekendstelling van prof. Brian Huntley se persoonlike vertellings oor sy 15 maande op Marion Eiland.

Prof. Huntley, wat tydens bogenoemde verblyf slegs 20 jaar oud was, geniet internasionale erkenning as bewaringskundige met meer as vyftig jaar se ervaring in veldnavorsingsbestuur oor die hele Suider-Afrika heen.

Sy boek, Exploring a Sub-Antarctic Wilderness, is die eerste boek wat gepubliseer word deur die "Antarctic Legacy of South Africa" (ALSA)-projek, wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) gehuisves word. Daar word gehoop dat dit die begin sal wees van 'n waardevolle reeks publikasies oor die geskiedenis van Suid-Afrika se nalatenskap aan die suidekant van Afrika.

Volgens die uitgewers is die boek 'n persoonlike vertelling van "die uitdagings, frustrasies en ongeëwenaarde opwinding oor werk op 'n afgeleë eilandwildernis vóór die era van akkurate kaarte, voetpaadjies, veldhuisies, digitale kameras, die internet en vele ander moderne geriewe".

Die boek word op 24 Mei 2016 bekendgestel by die Departement Plant- en Dierkunde by die US. Kontak Me. Ria Olivier by riaolivier@sun.ac.za vir meer inligting.

Agtergrond

Sedert Suid-Afrika die Prins Edward Eilande in 1948 geannekseer het, het Suid-Afrikaanse navorsers gereelde ekspedisies na die Antarktiese Kontinent, die Prins Edward Eilande en Gough Eiland onderneem. Die "Antarctic Legacy of South Africa" (ALSA)-projek word gefinansier deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) as deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Program. Die doel van die projek is om die ryk menslike geskiedenis van die ekspedisies wat oor die afgelope 70 jaar onderneem is, te bewaar.