Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vyf goues vir Maties Atletiek
Outeur: Maties HP
Gepubliseer: 19/04/2016

​Vyf lede van die Maties Atletiekklub is as nasionale kampioene in hul onderskeie items gekroon by die SA Senior Baan- en Veldatletiekkampioenskap wat die afgelope naweek by Coetzenburg aangebied is.

Diskusgooier Victor Hogan het nie net sy nasionale titel suksesvol verdedig nie, maar het ook vir die Olimpiese Spele in Rio gekwalifiseer met sy wenafstand van 67.62m op Vrydag, die eerste dag van die kampioenskap. Die hoogspringer Keagan Fourie het Saterdag sy eerste senior nasionale titel gewen toe hy die hoogspring met 'n hoogte van 2.15m gewen het.

"Dit is wonderlik om hierdie item te wen, maar ek wou baie graag hoër gespring het," het Fourie oomblikke nadat hy as kampioen gekroon is, gesê. Hy het ook titels op hoërskool- en nasionale juniorvlak gewen.

"Dit was my doel om die titel te wen, maar mens weet nooit wat gaan gebeur nie en dit was glad nie maklik nie. Ek wou ook minstens 2.20m gespring het, maar op die dag het dit net nie gebeur nie."

Shaun de Jager het sy beste tyd van die seisoen gehardloop (45.90 sekondes) en die silwermedalje in die 400m gewen. Net die wêreldkampioen Wayde van Niekerk het hom geklop. Dit was 'n fantastiese wedloop en De Jager het net-net stadiger as sy persoonlike beste tyd gehardloop. Hy moet ook nog ’n kwalifiserende tyd vir Rio behaal.

Jodie Sedras het haar eerste senior nasionale medalje gewen in die paalspring vir senior vroue toe sy 'n hoogte van 3.50m behaal het om silwer te ontvang. Johan Kruger het brons in die hammergooi vir senior mans gewen.

In die gekombineerde items het Maties Atletiek drie goue medaljes gewen. Wynand du Toit is die nuwe junior tienkampkampioen terwyl Nienka du Toit die sewekamp vir junior vroue gewen het. Die jong Leandre Ketch het goud gewen in die vyfkamp vir meisies o.16. Wynand en Nienka het albei nuwe Boland-rekords opgestel terwyl Leandre 'n nuwe SA rekord opgestel het.

Foto's:

Victor Hogan. Fotokrediet: Thys Lombard

Keagan Fourie. Fotokrediet: Outsider Communications