Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika bied besondere groeimoontlikhede
Outeur: Ronel Beukes
Gepubliseer: 18/04/2016

"Afrika se tyd het aangebreek. Met ʼn totale bevolking van oor ʼn duisend miljoen – waarvan meer as die helfte jonger as 20 is – en, binne die volgende twee dekades, die grootste arbeidsmag ter wêreld, gaan Afrika een van die grootste markte met die swakste markpenetrasie wees."

Dit is die woorde van prof Johan van Zyl, voormalige Groep- Uitvoerende Hoof van Sanlam Beperk en buitengewone professor in beide die Departemente Landbou-ekonomie en Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

In ʼn spesiale lesing onlangs by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het Van Zyl gesê een van die vernaamste dryfvere vir toekomstige groei in Afrika sal buitelandse direkte investering in ʼn verbeterde sake-omgewing wees. Dit sal tot die modernisering van Afrika se ekonomieё lei.

ʼn Ander dryfveer gaan groot tegnologiese spronge wees wat aanleiding sal gee tot ontwikkelings op die gebiede van kommunikasie en finansies. Saam met versnelde verstedeliking en toenemende kleinhandelgeleenthede sal dit tot betekenisvolle volhoubare ekonomiese transformasie lei.

Ondanks die feit dat aansienlike skeptisisme oor Afrika  ʼn struikelblok vir sommige nuwe beleggers is, meen Van Zyl dat baie reeds suksesvol sake doen in Afrika. In heelparty sektore is die voordele vir voorloper-ondernemings sigbaar.

Volgens Van Zyl aanvaar suksesvolle maatskappye dat Afrika nie ʼn enkele land is nie, maar dat dit oor meer as 50 afsonderlike markte beskik. Die sakemodel van die meeste van hierdie maatskappye is baseer op ʼn vennootskapsbenadering en hulle maak hoofsaaklik staat op plaaslike talent wat deur ʼn klein getal uitgewekenes ondersteun word. Verder investeer hulle in die opleiding en ontwikkeling van plaaslike personeel en gee aandag aan sagter kwessies oos waardes.

"Sukses vereis noukeurige beplanning oor ʼn langer termyn. Geduld, volharding en buigsaamheid is noodsaaklik, want in Afrika neem dit langer om ooreenkomste te sluit," het Van Zyl gesê. "ʼn Positiewe, kan-doen houding is nodig."

"Dis nie maklik om in Afrika sake te doen nie en verg besondere inspanning; tog is die beloning meer as voldoende om vir die moeite en ander risiko's te vergoed."

Foto: V.l.n.r. is professore Stan du Plessis, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Johan van Zyl en Wim de Villiers, US rektor en visekanselier.