Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekendstelling van die Eenheid vir Konstruksiemateriale
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 15/04/2016

"Ons almal wat hier saam is, is net soos beton," het prof Billy Boshoff gesê by die amptelike bekendstelling van die Eenheid vir Konstruksiemateriale in die Departement Siviele Ingenieurswese, Universiteit Stellenbosch. "Beton bestaan uit verskillende materiale waarvan party duurder en party onvoorspelbaar is, maar saam maak dit beton. Geen bestanddeel is belangriker as die ander een nie, want as jy een bestanddeel verwyder, sal die beton nie werk nie." Hierna het hy aan almal teenwoordig - persone, instansies en industrie - erkenning verleen vir die belangrike rol wat elkeen in die Eenheid speel.

Die Eenheid vir Konstruksiemateriale (UCM) is op 13 April 2016 amptelik bekendgestel tydens 'n dinee wat heel gepas in die nuwe betonlaboratorium gehou is. Die geleentheid is baie goed bygewoon deur verskeie vooraanstaande persone in die konstruksiebedryf. Dit het ingesluit Hanli Turner en John Sheath, onderskeidelik president en hoofuitvoerende beampte van die Betonvereniging van Suid-Afrika (CSSA), en Bryan Perrie, besturende direkteur van die Betoninstituut (TCI).

Die UCM streef daarna om 'n sentrum van uitnemendheid en topinstituut vir konstruksiemateriale in Suid-Afrika te wees ten opsigte van onderrig, navorsing en raadgewing. Navorsing en opleiding van studente is van kernbelang. Tydens sy toespraak het prof Boshoff die belangrikheid beklemtoon van samewerking en vennootskappe met industrie. Hy het spesiale klem daarop geplaas dat navorsing vir industrie op die kort- en langtermyn akademiese waarde én relevansie moet hê. Die UCM ag dit ook as 'n hoë prioriteit om konsultasiedienste aan industrie te lewer, veral waar hierdie dienste nie by kommersiële laboratoria beskikbaar is nie.

Die UCM stel belang in alle aspekte van konstruksiematerial, maar die hoofareas is tans:

* Ekovriendelike konstruksiemateriale

* Veselversterkte beton

* Vars en nuwe beton

* Hoëverrigtingbeton

Meer inligting oor die UCM is beskikbaar by www.sun.ac.za/ucm of bboshoff@sun.ac.za.

Onderskrif: Van links: Dr Riaan Combrinck (UCM), prof Eugene Cloete (viserektor: Navorsing), prof Billy Boshoff (hoof UCM), me Wibke de Villiers (UCM) en Prof Hansie Knoetze (dekaan: Ingenieurswese).