'n Navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US) is deel van 'n span internasionale wetenskaplikes wat die grootste studie tot nog toe onderneem om die genetiese oorsake van prostaatkanker (KaP) in mans van Afrika te ondersoek.
"Buiten dat ons waardevolle insig sal kry oor die oorsprong van KaP in Afrika-bevolkingsgroepe, sal hierdie projek ook genetiese en epidemiologiese kapasiteit en hulpbronne op die vasteland ontwikkel wat deur ander Afrika-navorsers gebruik kan word," sê dr Pedro Fernandez, van die Afdeling Urologie by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
Die studie, bekend as MADCaP (Mans van Afrika-afkoms en Karsinoom van die Prostaat), word befonds deur die Amerikaanse Nasionale Kankerinstituut (NCI), en is 'n samewerkende projek tussen navorsers van Amerika, Suid-Afrika, Ghana, Senegal en Nigerië.
Professor Timothy Rebbeck van die Harvard TH Chan Skool van Openbaregesondheid en die Dana-Farber Kankerinstituut in die VSA sal die projek lei. Fernandez is die hoofnavorser en het befondsing van sowat S$3 miljoen (ongeveer R45 miljoen) ontvang om die insameling en genetise analise van biomonsters vir die studie te doen.
KaP is die algemeeste soort kanker onder Suid-Afrikaanse mans en wêreldwye statistieke dui daarop dat mans van Afrika-afkoms dubbel die risiko het om KaP te ontwikkel as mans van ander bevolkingsgroepe.
"Die meerderheid mense wat in Afrika suid van die Sahara gediagnoseer word het 'n aggresiewe vorm van die siekte, en is in 'n gevorderde en soms ongeneeslike stadium. In mans van Afrika suid van die Sahara en mans van Afro-Amerikaanse afkoms kan hierdie patroon toegeskryf word aan 'n kombinasie van aggressiewe gewasse en laat opsporing," het die MADCaP-navorsingspan in 'n verklaring gesê.
"Dus kan daar ooreenkomstige kenmerke van KaP-etiologie in mans van Afrika-afkoms wees wat die sterfte-patrone kan verduidelik. Kennis wat opgedoen word uit studies oor prostaatkanker in Afrika suid van die Sahara kan die begrip van aggressiewe prostaatkanker in mans van Afrika-afkoms reg oor die wêreld verbeter."
Alhoewel verskeie genoom-wye verbindingstudies (GWAS) oor prostaatkanker gerapporteer is, was slegs een in Afrika-bevolkings, en die meeste GWAS-herkende loci kon nie herhaal word in mans van Afrika-afkoms nie. "Daar is 'n groot behoefte om Afrika-spesifieke allele te identifiseer om die oorsprong van prostaat-karsinoom te verklaar in terme van die risiko en aggressie van die siekte," het die navorsingspan gesê.
Die MADCaP-projek beoog om die huidige kennisgebreke aan te spreek deur 'n GWAS te onderneem wat monsters versamel van Suid-Afrika, Senegal, Nigerië en Ghana en die hele projek sal oor 'n tydperk van vyf jaar duur.
"As 'n geheel sal die projek oop wees vir skakeling met die gemeenskappe in Afrika suid van die Sahara, spesifiek om kapasiteit vir kankernavorsing in Afrika te bou. Te danke aan die volume monsters wat verwerk moet word vir die studie sal kankernavorsers daarby baat om toegang te hê tot 'n Afrika-sentriese kanker-genotiperende versameling. Dit sal die ontwerp en uitvoering van klein- tot medium-grootte loodstudies rig, wat op sy beurt kan lei tot verdere grootskaalse GWAS in Afrika-bevolkingsgroepe," het die MADCaP span gesê.
Foto onderskrif:
Lede van die Suid-Afrikaanse been van die MADCaP-projek. Agter van links: dr Chantal Babb (Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste), mnr Hassan Kimmie (Sentrum vir Proteomiese- en Genomiese navorsing), prof André van der Merwe (Universiteit Stellenbosch). Voor van links: dr Lindsay Petersen (Sentrum vir Proteomiese- en Genomiese navorsing), dr Pedro Fernandez (Universiteit Stellenbosch), mnr Jacques Davids (Universiteit Stellenbosch).