Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Wim de Villiers kyk terug op sy eerste jaar as Rektor en Visekanselier
Outeur: Prof Wim de Villiers
Gepubliseer: 08/04/2016

​Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, is vandeesmaand een jaar in dié posisie. Lees hieronder sy oordenking oor die afgelope jaar.

-------------------------

​Dit is vandeesmaand ʼn jaar sedert ek my pos opgeneem het, en ek moet sê ek verstaan nou beter wat dit beteken om aan die diepkant ingegooi te word! Die afgelope 12 maande was beslis vol uitdagings, maar ek sou dit nie anders wou gehad het nie.

Die Universiteit Stellenbosch (US) is ʼn uitstekende instelling wat wonderlike werk doen, en ek is bevoorreg om hier betrokke te wees. Alle eer aan ons personeellede en studente – en ander lede van die groter Matie-familie – vir die talle prestasies waarop ons trots kan wees. Gun my die geleentheid om ʼn paar hoogtepunte van die afgelope jaar, wat in vele aspekte uitsonderlik was, uit te lig:

  • By die US se gradeplegtighede in Desember 2015 en Maart 2016 is nuwe rekords geslaan wat betref die aantal kwalifikasies toegeken, insluitend doktorsgrade – onderskeidelik 7 857 en 266, waarvan sowat 40% aan bruin, swart en Indiër-kandidate gegaan het. En sowel ons eerstejaarsretensie- en algehele studentesukseskoers is deurgaans bo 85% – onder die heel beste in die land. Die US is sonder twyfel ʼn nasionale en kontinentale bate wat ʼn beduidende bydrae tot menslike ontwikkeling maak.
  • In ʼn onlangse jaarlikse verslag het die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) weereens bevestig dat die US die hoogste geweegde navorsingsuitsette per voltydse akademikus van alle universiteite in Suid-Afrika gelewer het. Maties is ook ʼn duidelike voorloper op die gebied van innovasie, met die meeste patente jaarliks. Hierdie vlak van prestasie ontvang voordurend internasionale erkenning, soos weerspieël in die feit dat ons 11de uit 200 instellings in 48 lande geplaas is op Times Higher Education se ranglys van universiteite in die BRICS-lande en ander ontluikende ekonomieë vir 2016.
  • En onder die talle voorbeelde van ons sosiale impak, tel die sukses wat ons Regshulpkliniek verlede jaar behaal het om loonbeslagleggingsbevele wat deur mikroleners teen plaaswerkers, skoonmakers en sekerheidswagte bekom is, ter syde gestel te kry. Dít het nasionale implikasies vir lae-inkomstegroepe wat dikwels uitbuiting weens gewetenlose sakepraktyke in die gesig staar.

Dit beteken egter nie alles gaan voor die wind en ons het geen probleme nie. Ja, ons het talle komplekse en veeleisende uitdagings, maar ek dink ons maak goeie vordering. Ons reis van verandering is onvoltooid en onvolmaak, maar ons is vasberade in ons voorneme om vorentoe te beweeg.

  • Die US se taalbeleid word tans hersien om te verseker dat ons verbintenis tot "veeltaligheid sonder uitsluiting" die beste moontlike neerslag in die leer-en-onderrigomgewing vind. Ons streef die dubbele toestelling van toegang en sukses na.
  • Pogings om die US meer inklusief te maak, duur onverpoosd voort. Verlede jaar is R70 miljoen uit die Rektor se Strategiese Personeelfonds bewillig om die diversifisering van die instelling se personeelkorps ʼn hupstoot te gee, veral op senior akademiese vlak. Verskeie aanstellings is al gemaak. Die Universiteit neem ook deel aan die regering se Program vir ʼn Nuwe Generasie Akademici (nGAP).
  • Dit bly ʼn prioriteit om groter sosiale kohesie op ons kampusse te bewerkstellig. Dit is vir my teleurstellend dat ons steeds sukkel met rassisme, seksisme, geslagsgeweld en ander vorme van diskriminasie en vergrype – weliswaar nasionaal, nie net by die US nie, maar dit onthef ons nie van die verpligting om ons bes te probeer om hierdie probleme reg te stel nie. Ek is bly die US blyk nie meer die T-woord te vrees nie! Transformasie is eksplisiet na topbestuursvlak verhef, en ʼn Transformasiekantoor is op die been gebring.

Uit die staanspoor het ek ʼn "oop gesprek" by die US aangemoedig. Kritiese en robuuste debat is wesenlik deel van die universiteit as instelling. En die Grondwet gee aan elkeen die reg op wettige en vreedsame protes. Tog mag daar geen ontwrigting van akademiese of administratiewe aktiwiteite wees nie, behoort almal se regte gerespekteer te word, en moet niemand die geleentheid ontsê word om hier te studeer of te werk nie. Die DHOO en Universiteite Suid-Afrika het dit duidelik gemaak dat hoëronderwysinstellings 'n verantwoordelikheid het om hul mense, bates en aktiwiteite te beskerm.

Aan die begin van die nuwe millennium het die US ʼn verbintenis tot regstelling en ontwikkeling gemaak. In lyn hiermee het ek in my inhuldigingsrede verlede jaar aangekondig die Universiteit stig ʼn beursfonds vir lede van die Stellenbosse gemeenskap – en hul kinders en kleinkinders – wat tydens apartheid onder gedwonge verskuiwings uit Die Vlakte deurgeloop het. Dit gee my groot vreugde om te kan sê die eerste vyf Vlakte-beurse is intussen toegeken. Nog 10 afstammelinge van Vlakte-gesinne is ook met beurse uit ander fondse tot die Universiteit se beskikking bygestaan, en eksterne skenkers het goed bygedra tot beurse. In 2015 het die US R659 miljoen in beurse en lenings aan voorgraadse en nagraadse studente uitbetaal – na ons wete die meeste van enige universiteit in die land.​

Onderwys is die beste vorm van bemagtiging. Laat dit ons inspireer in die nastrewing van ons missie om ʼn gemeenskap van sosiale geregtigheid en gelyke geleenthede vir almal te skep.

Dankie aan almal vir die ondersteuning.

Groete

Prof Wim de Villliers
Rektor en Visekanselier