Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente verbreek vyf dae stille protes teen verkragting en vra vir beter sekuriteit op kampus
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 08/04/2016

Sowat 'n 100 studente het vandag (8 April) om 12:30 op die Rooiplein vergader om 'n vyf dag lange stille protes teen verkragting en seksuele misdade te verbreek.

Die studentebeweging, #RedtAPE, het die afgelope week hul monde met kleefband toegeplak in solidariteit met die slagoffers van verkragting wie se stemme dikwels nie gehoor word nie, of wat te bang of skaam is om te praat oor wat met hul gebeur het.

Dié protes vorm deel van verskeie soortgelyke aksies regoor kampus die afgelope weke in reaksie op verkragting en verkragtinskultuur op kampus. Dit volg ook ná die verkragting van 'n inwoner van Heemstede verlede naweek en nóg 'n voorval in vroeër vanjaar waarin 'n inwoner van Harmonie-koshuis aangeval is.

Lea Koekemoer, 'n organiseerder van die #RedtAPE-beweging, het tydens die byeenkoms op die Rooiplein 'n beroep op studente gedoen om 'n petisie te onderteken waarin die bestuur van die Universiteit gevra word om veiligheidsmaatreëls op kampus te verskerp. Hierdie petisie sal in koshuise regoor kampus sirkuleer en waarskynlik ook op sosiale media beskikbaar wees.

Koekemoer sê van hul versoeke sluit in: patrollies en vervoer op die cluster-roetes, paniekknoppies vir studente, groter sigbaarheid van veiligheidspersoneel en 'n tolvrye krisislyn wat slagoffers van seksuele geweld kan skakel.

"As ons met hierdie protes net een verkragting kan voorkom, was dit die moeite werd," het sy tydens die geleentheid gesê.

Die US Koor het die stilte amptelik verbreek met 'n roerende weergawe van die lied, Indodana.