Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US sosio-ekonomiese regskenner, prof Sandra Liebenberg, verkies tot VN Komitee
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 07/04/2016

Prof Sandra Liebenberg, houer van die HF Oppenheimer Leerstoel in Mensregte en uitgelese professor in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch, is op Woensdag 6 April tot die  Verenigde Nasies se Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte verkies.

In 'n verkiesing wat per geslote stembrief plaasgevind het, het die Verenigde Nasies se Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte Prof Liebenberg and the Egiptiese kandidaat Mohamed Ezzeldin Abdel-Moneim as verteenwoordigers van die Afrika-state op die komitee verkies. Die ander kandidate was Marc France Eddy Balancy van Mauritius en Mohamed Ould Lagdaf Ould Boya van Mauritanië.

Prof Liebenberg is deur die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking genomineer in erkenning van haar "omvangryke ervaring in menseregte, veral op die gebied van ekonomiese, sosiale en kulturele regte". Professor Liebenberg se termyn sal op 1 Januarie 2017 in aanvang neem.

Die Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte

Die Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte is 'n liggaam van die VN se Ekonomiese en Sosiale Raad (ECOSOC). Dit bestaan uit 18 onafhanklike kundiges, mense van hoë morele karakter met bewese ervaring op die gebied van menseregte en meer spesifiek in veld van ekonomiese-, sosiale- en kulturele regte. Lede word verkies vir 'n termyn van vier jaar deur ECOSOC-lidlande. Komiteelede dien in hul persoonlike hoedanigheid en kan, indien hulle weer genomineer word, herverkies word vir 'n verdere vier jaar.  In ooreenstemming met die ECOSOC Resolusie 1985/17, met betrekking tot die samestelling van die Komitee, moet behoorlike oorweging gegee word aan regverdige geografiese verspreiding en aan die verteenwoordiging van verskillende vorme van sosiale- en regstelsels.

 

Meer oor Prof Liebenberg

Prof Liebenberg is die akademiese mede-direkteur van die Fakulteit se nagraadse navorsingsprojek genaamd Socio-economic Rights and Administrative Justice Research Project (SERAJ). Die Universiteit van die Witwatersrand het op 18 Julie 2011 'n LLD in Regte aan haar verleen, wat haar een van van slegs 'n handjievol  maak om só vereer te word. Prof Liebenberg is in 2015 tot buitengewone professor bevorder.

Sy het voorheen ook op die Tegniese Komitee gedien wat in 1996 die Grondwetlike Vergadering oor die Handves van Menseregte in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, geadviseer het. 

Prof Liebenberg was voorheen betrokke by die Community Law Centre aan die Universiteit van die Wes-Kaap, waar sy in 1997 die stigter was van die Socio-Economic Rights Project. Sy was intensief betrokke by navorsing en litigasie in die veld van sosio-ekonomiese regte by die sentrum, veral by die sentrum se amicus curiae toetreding in die bekende sake van Government of South Africa v Grootboom and Minster of Health and Others v Treatment Action Campaign and Others.

In haar huidige posisie aan die Universiteit Stellenbosch verleen sy gereeld haar deskundige raad aan nie-regeringsorganisasies in die litigasie van sosio-ekonomiese aangeleenthede. Sy dien ook op die redaksie van die South African Journal of Human Rights, die African Human Rights Law Journal, die Human Rights Law Journal enSpeculum Juis. Sy is die voorsitter van die Nie-Regerings organisasie, SERI (Socio-Economic Rights Institute OF South Africa) en is 'n raadslid van die Advisory Board of Council for the Advancement of the South African Constitution (CANSAC). 

Prof. Liebenberg publiseer wyd in die veld van sosio-ekonomiese regte en is die outeur van die boek Socio-Economic Rights Adjudication under a Transformative Constitution(Claremont: Juta & Co Ltd, 2010).