Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA se batebestuursbedryf baat by ooreenkoms tussen Schroders en US
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 07/04/2016

​​​Verteenwoordigers van die batebestuurbedryf in Suid-Afrika het hierdie week in Stellenbosch byeengekom vir die eerste seminaar wat deur die batebestuurfirma Schroders, in samewerking met die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap van die Universiteit Stellenbosch (US), aangebied is. ​

Met 'n fokus op onderwerpe soos "Onlangse tendense en wat die toekoms inhou", "Portefeulje-ontwikkeling en opbrengsaandrywers", "Is slim beta regtig slim? 'n Beter manier om betablootstellings te bestuur" en "Die uitdagings waardeur gedefinieerde voordeleskemas in die gesig gestaar word", het verteenwoordigers van Schroders Investment Management op Dinsdag 5 April hul aanbiedings met verteenwoordigers van die bedryf gedeel en op Woensdag 6 April met nagraadse studente.

Prof Willie Conradie, voorsitter van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, het gesê dit was 'n voorreg en geweldig waardevol om na die verskillende sprekers te luister en by hul kennis en ondervinding te baat.

"Batebestuurders by Schroders baseer hul beleggingsbesluite op gevorderde teoretiese navorsing wat nog nie algemene praktyk in Suid-Afrika is nie. Hierdie soort interaksie met internasionale batebestuurders het die potensiaal om op 'n baie positiewe manier 'n ongelooflike invloed op die batebestuurpraktyk in Suid-Afrika te hê."

Hierdie seminaar is een van die inisiatiewe wat voortspruit uit 'n ooreenkoms tussen die US en Schroders se afdeling vir Multi-batebeleggings en portefeulje-oplossings (MAPS). Die ooreenkoms sluit ook nagraadse beurse en navorsingsamewerking in.

MAPS se hoof, US-alumnus dr Nico Marais, het 'n deurslaggewende rol gespeel in hierdie ooreenkoms. Hy het verlede jaar met verteenwoordigers van die universiteit ontmoet en was onmiddellik ontvanklik vir die idee om met sy alma mater saam te werk en ook sy maatskappy en ander kontakte te betrek. Hy was ook een van die sprekers by die byeenkoms.

Die seminaar is deur prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, geopen. Hy het almal verwelkom en gesê die vlak van belangstelling in hierdie inisiatief is 'n aanduiding dat daar 'n duidelike behoefte aan samewerking van hierdie aard is wat die akademiese wêreld en die privaatsektor in openbare belang bymekaarbring.

Prof De Villiers het verduidelik dat universiteite wêreldwyd deur finansiële uitdagings in die gesig gestaar word.

"'n Hoofrede hiervoor is die voortdurende fiskale inperkings wat nasionale regerings op hoër onderwys toepas. Gepaardgaande hiermee het die korporatiewe en skenkerbydraes begin krimp ná die globale finansiële krisis van 2007/8.

"Die ongelukkige gevolg hiervan is dat op presies die tydstip wanneer ongelooflike druk ervaar word om toegang tot hoër onderwys uit te brei, die geldbronne ontbreek om dit te bereik."

Dit is waarom hy die finansiële bystand in die vorm van 40 nagraadse beurse vir studente uit benadeelde agtergronde so besonder waardeer.

"Hierdie inisiatief gaan ook geweldig bydra tot die uitbreiding van die navorsingskapasiteit in en die navorsingsuitset van ons Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, die enigste universiteitsdepartement in die land wat die drie hoofdissiplines in hierdie veld  – Statistiek, Aktuariële Wetenskap en Finansiële Risikobestuur – in 'n enkele departement kombineer. Dit skep unieke geleenthede vir multi-dissiplinêre navorsing."

Hy het voorts gesê die uitdaging van finansiering bied geleenthede in die mate wat dit die inrigting dwing om vennootskappe met partye te smee wie se missie met dié van die universiteit ooreenstem.

"Ons vennootskap met Schroders is so 'n voorbeeld. Dit verenig die bedryf en akademiese kundiges om saam te werk op navorsing wat sowel akademiese kennis uitbrei as die lewering van beleggingsuitkomste deur professionele beleggers verbeter. Dit is fantasties om deel te wees van so 'n toekomsgerigte inisiatief. Ons is opgewonde oor die potensiaal en vertrou dat dit net die begin is van 'n lang vennootskap met Schroders."

Schroders is al meer as 200 jaar in besigheid, bestuur bates van bykans $461,1 miljard, verskaf werk aan meer as 3 700 mense en het kantore in 28 verskillende lande.

Gavin Ralston van Schroders het verduidelik dat hulle hierdie tipe vennootskap as baie belangrik vir hulle, as 'n suksesvolle besigheid in die privaatsektor, beskou.

"Ons wil die onderrig van die volgende generasie Suid-Afrikaners steun en ons is baie trots op hierdie vennootskap," het hy bygevoeg.

Wat die ooreenkoms behels tussen Schroders en die US behels:

Vanaf 2017 sal Schroders, Lombard Insurance Company (een van Schroders se strategiese vennote) en individuele donateurs:

  • Twintig volle nagraadse beurse vir 'n twee-jaar tydperk verskaf aan studente in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, sowel as in die breër Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, met voorkeur aan kandidate uit benadeelde agtergronde;
  • Twintig R20 000-toekennings aanbied vir die beste navorsingsvoorstelle in finansies;
  • Gesamentlike navorsingsprojekte oor nuwe onderwerpe, sowel as verdere navorsing oor bestaande Schroders MAPS-artikels, ondersteun;
  • 'n Beleggingsforum vir studente gemik op debat oor tendense in beleggingsbestuur daarstel; en
  • 'n Jaarlikse hoëprofiel-beleggingseminaar met bydraes van internasionale kenners befonds.

Foto:

Mnr David King (Schroders), dr John McLauglin (Schroders), prof Wim De Villiers (Rektor van US), dr Nico Marais (Schroders; Hoof van MAPS), prof Niel Krige (Voorsitter van die Ontwikkelingskantoor van die US), mnr Matthias Schreiber (Schroders), prof Willie Conradie (Voorsitter: Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap) en dr Kevin Kneafsey (Schroders). Fotograaf: Anton Jordaan