Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sportwetenskapstudente doen ervaring op by Kaapstad-fietstoerekspo
Outeur: Sport Science: Media / Sportwetenskap: Media
Gepubliseer: 29/03/2016

Biokinetika-studente van die Universiteit Stellenbosch se Departement Sportwetenskap het onlangs praktiese ervaring opgedoen by die Kaapstad-fietstoer se ekspo.

Volgens Ian Rainsford van die department was die studente betrokke by die uitvoer van verskeie prestasie- en liggaamsamestelling-assesserings op honderde fietsryers.

"Hulle moes ook die toetse en die werking van die toerusting verduidelik. Na aanleiding van die toetse het die studente dan die resultate aan die fietsryers verduidelik op 'n manier wat hulle kon verstaan."

Hy het bygevoeg dat die ervaring die studente die geleentheid gegee het om met sportwetenskap-toerusting te werk en dat hulle het kennis gemaak met die wêreld van prestasietoetsing in 'n ontspanne atmosfeer.

Die studente het ook waardevolle ervaring opgedoen om terugvoering te gee sonder om te veel wetenskaplike terme te gebruik. Dit was belangrik dat die fietsryers die uitslae van hul toetse heeltemal moes verstaan.

"Dit bou vertroue in kommunikasie en praktiese vaardighede," het Rainsford bygevoeg.

Een van die studente by die ekspo was Kayla Greger. Sy was meestal betrokke by die Watt-fiets – wat maksimum kraglewering bepaal – en die berekening van die liggaamsamestelling en vetpersentasie.

"Die Watt-fiets was beslis die mees toepaslike stasie vir die geleentheid. Dit was dus ook die gewildste stasie. Ons het geleer hoe om die fietsryer te toets, die data te ontleed en te bepaal of daar enige teenstrydighede tussen die linker- en regterbeen is. Dit was ook moontlik om te sien of die fietsryer sekere spiere meer gebruik as ander. Die stasie waar die liggaamsamestelling-toetse gedoen is, was ook baie interessant.

"In die geheel was dit 'n goeie geleentheid om dit wat ons die afgelope paar jaar geleer het, toe te pas in die veld. Ons moes die inligting wat versamel is uit die toetse op die verskillende individue in baie eenvoudige taal verduidelik sodat hulle kon verstaan wat hul uitslae gewys het. Ons het glad nie wetenskaplike terminologie gebruik nie.

"Ons moes ook aan hulle verduidelik hoe hulle hul prestasie kan verbeter. Die omgewing waarin ons gewerk het, was baie ontspanne en die meestersstudente wat in beheer van die toerusting was, het nie omgegee om ons te help nie."