Beste Student in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Ek is deeglik bewus van die ondersekerheid wat geskep is deur die taalinterdik van Afriforum wat vereis dat ons vanaf 29 Maart die taalspesifikasies van die 2016 Jaarboek streng moet toepas. Wat word nou van die beginsel dat taal geen student mag uitsluit nie? Om hierdie onsekerheid uit die weg te ruim, wil ek graag die volgende aan u deurgee oor die taalpraktyk wat u vanaf 29 Maart in u klasse kan verwag.
Daar is twee hoof-uitgangspunte wat die Fakulteit sal volg vanaf 29 Maart, waarvan die eerste een deur die wet afgedwing word:
- Daar moet vanaf 29 Maart 2016 streng gehou word by die taalspesifikasies van die 2016 Jaarboek (Afriforum hofinterdik, en US Raadsvereiste van geen afbou van Afrikaanse aanbod).
- Die US wil 100% toeganklik wees vir studente wat nie akademies geletterd in Afrikaans is nie, daarom sal alle module-inhoud wat deur middel van voorlesings gedek word, ook in Engels aangebied word (US Raadsuitspraak dat die verhoging van die Engelsaanbod tot 100% ondersteun word).
In die praktyk sal dit die volgende beteken:
- Die meeste Departemente keer terug na konvensionele T-modules, met dien verstande dat dit met die grootste omsigtigheid toegepas sal word om te verseker dat geen student op grond van taal van aanbod uitgesluit word nie. U sal deeglik aan die begin van die kwartaal en aan die begin van voorlesings ingelig word oor hierdie voorneme en die bogenoemde twee uitgangspunte, asook oor wat presies in die module gedoen sal word om hieraan te voldoen.
- Om te verseker dat alle lesings ten minste in Engels beskikbaar is, en Afrikaans soos gespesifiseer in die Jaarboek (50% of meer) beskikbaar is, maak sommige Departemente in sekere modules voorsiening vir ekstra voorlesings in Afrikaans en/of Engels.
- In gevalle waar dosente slegs Engels magtig is, maak sekere Departemente voorsiening vir intydse tolking in Afrikaans, en/of ekstra lesings in Afrikaans.
Tot tyd en wyl die Taalbeleid en -Plan van die Universiteit amptelik gewysig is, sal ons almal met die bogenoemde reëlings moet saamleef, en ek maak staat op u begrip en samewerking om die bogenoemde reëlings met waardigheid en respek te help implementeer.
Ek hoop hierdie brief is voldoende om enige onsekerheid uit die weg te ruim, maar indien u enige verdere vrae het hieroor, rig asseblief 'n e-pos aan Tanja Malan (tanja@sun.ac.za).
Met vriendelike groete
Johan Hattingh
Dekaan, 24 Maart 2016