Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste multimedia woordeboek vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 10/03/2016

'n Woordeboekkundige en 'n rekenaarwetenskapstudent van die Universiteit Stellenbosch (US) het saamgespan om 'n prototipe van die eerste multimedia elektroniese woordeboek (MEW) vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal daar te stel.

Dr. Hanelle Fourie Blair, mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), het die teoretiese model van'n elektroniese gebaretaalwoordeboek vir grondslagfaseleerders vir haar doktorale tesis in leksikografie in 2013 ontwikkel.

Twee jaar later het Hanno Schreiber gestalte gegee aan haar idee toe hy dit as sy finale jaar honneursprojek in Rekenaarwetenskap by die US aangepak het.

Waarom 'n multi-media woordeboek vir gebaretaal?

Dr. Fourie Blair sê min mense besef dat gebaretaal, net soos enige ander taal, oor 'n eiesoortige linguistiek en grammatika beskik.

"Ek wil graag 'n kultuur help uitbou waar Dowe mense en veral kinders met gemak toegang tot gebruikersvriendelike woordeboeke het en daardeur 'n dieper leeskultuur ontwikkel. Dit is bitter hartseer dat die meeste Dowe mense so min lees en derhalwe meestal ongeletterd is. Dit hoef nie so te wees nie."

Tot dusver is die meeste handboeke vir gebaretaal in Suid-Afrika só geskryf om horende mense te help om met Dowes te kommunikeer, en nie andersom nie. Daar is ook 'n skreiende gebrek aan taalhandboeke en woordeboeke vir Dowe kinders, vergeleke met dit wat vir horende kinders beskikbaar is.

Dr. Fourie Blair meen ook Dowe kinders behoort meer tyd aan taalverwerwing as aan spraakterapie te bestee: "Waarom ure daaraan bestee om 'n kind te leer om sekere klanke te vorm en te praat, terwyl hulle eerder die taalvermoë kon aanleer om die wêreld van wetenskap en literatuur te ontdek?

"Die natuurlikste en mees toeganklike taal vir 'n Dowe kind is gebaretaal. Vestig éérs die taal. Daarna kan jy al die ander dinge later aanleer," sê sy.

Hoe funksioneer so 'n multimedia gebaretaal woordeboek?

Die multimedia elektroniese woordeboek funksioneer sonder die beginsel van 'n spesifieke brontaal of doeltaal. Gebruikers kan deur die woordeboek soek d.m.v. 'n prentjie, 'n gebaar of 'n woord – elke soekmetode lei tot presies dieselfde resultaat. Die prentjiesoekmetode beteken dat 'n gebruiker nie in een van die twee tale (gebaretaal of geskrewe taal) geletterd hoef te wees om die woordeboek te begin gebruik nie.

Hanno sê hy was verstom oor hoe twee uiteenlopende dissiplines so goed kon saamwerk: "Hanelle was die ideale studieleier vir so 'n sagteware-projek. Sy het die  konsepte in haar tesis verduidelik en ons het gesit en prentjies teken totdat ons mekaar verstaan het. Ek het haar deur die loop van die projek gereeld op hoogte gehou van my vordering, en sy het gesê waarvan sy hou en wat sy graag sou wou verander. Haar insig, geduld en passie met hierdie projek het dit regtig lekker gemaak om daaraan te werk."

Dr Fourie Blair sê dit was wonderlik om saam met iemand te werk wat gestalte kon gee aan haar idees: "Danksy Hanno se projek kan ek nou my idee aan mense demonstreer. Maar daar is nog baie werk wat voorlê."

Op die oomblik ontlok die projek reeds groot belangstelling by instellings soos Die Federasie vir Dowes van Suid-Afrika: "Hulle is eintlik teleurgesteld omdat die elektroniese woordeboek nog nie klaar is nie!" lag sy.

Die volgende stap is om die nodige inhoud in te samel om die prototipe in 'n bruikbare produk te omskep. Dit behels besluite oor die inhoud en materiaal, gevolg deur die skryf van definisies en voorbeeldsinne, met gepaardgaande prentjies en videos van die gebare self, asook videos van die definisies en voorbeeldsinne in gebaretaal.

Hanno ontvang volgende week sy honneursgraad tydens die US se Maart 2016 gradeplegtigheid. Hy werk tans by die WNNR in Pretoria en beplan om in 2017 met sy MSc voort te gaan.

"Die projek was vir my 'n geleentheid om 'n stelsel te ontwikkel om die Dowe gemeenskap te help en sodoende 'n groot leemte te vul. Terselfdertyd het ek dit geniet om 'n volledige prototipe van Hanelle se wonderlike model te ontwikkel," voeg hy by.

Ter agtergrond

Doof versus doof: In die literatuur word meestal onderskei tussen Doof en doof. Mense wat doof is, het 'n oudiologiese gehoorgebrek maar gebruik nie gebaretaal nie (dis dikwels mense wat later in hulle lewe doof geword het). Mense wat Doof is, behoort tot 'n kulturele en linguistiese minderheidsgroep wat gebaretaal as hul eerste taal gebruik.


screenshot.JPG

Bo: Op die resultaatbladsy van die soektog na die konsep, gebaar of woord "appel", sien die gebruiker 'n prentjie van 'n appel, die geskrewe woord "appel" en 'n videogreep van APPEL in gebaretaal. 'n Vingerspelling van die woord verskaf die skakel tussen die geskrewe vorm en die visuele uitbeelding van die konsep in gebaretaal. Dan volg 'n parallelle struktuur waarin die definisie en 'n voorbeeldsin in geskrewe taal, sowel as gebaretaal verskaf word.  Dit bring mee dat die woordeboek nie slegs volledig tweetalig is nie, maar ook ten volle van tweerigtingkommunikasie gebruik maak.

Kontakbesonderhede

Dr Hanelle Fourie Blair

E: hfourie@sun.ac.za

S: 082 725 3631

 

Hanno Schreiber

E: hanno.schreiber@gmail.com


Mediaverklaring uitgereik deur Wiida Fourie-Basson, Media: Fakulteit Natuurwetenskappe, science@sun.ac.za, 021 808 2684