Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rekenaarsentrumstoele ‘n pyn in die nek (en rug) vir leerders
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 07/03/2016

Die onvoldoende sitplekke wat in rekenaarsentrums by verskeie skole in die Wes-Kaap verskaf word kom onder die soeklig tydens Skoolgesondheidsweek, 4 tot 8 Maart.

Die stoele wat leerders tans gebruik in rekenaarsentrums by skole mag dalk veroorsaak dat hulle lewenslank gebuk gaan onder rug- en nekpyn.

Nuwe navorsing deur fisioterapeute aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), Universiteit Stellenbosch, het bevind dat stoele in rekenaarsentums onvanpas is vir byna alle (97%) hoërskoolleerders.

"Meeste van hierdie kinders pas glad nie op die stoele nie," sê dr Sjan-Mari van Niekerk, 'n navorser by die FGGW se Afdeling Fisioterapie.

Vir die studie het hulle die mates van 700 hoërskoolleerders by 40 skole in die omgewing van Kaapstad geneem, en dit vergelyk met die groottes van die stoele in die rekenaarsentrums. Die meeste skole het gewone plastiektuinstoele gebruik wat òf te klein, òf te groot vir die meeste studente was.

"As die stoel te laag is moet die kinders hul skouers lig om die sleutelbord te bereik, en as dit te hoog is moet hulle vooroor leun om die skerm te sien," sê Van Niekerk.

Twee of drie studente moet ook gereeld 'n rekenaarwerkstasie deel, wat veroorsaak dat hul boonop te hoog of te laag, ook teen 'n ongemaklike hoek moet sit. "Partykeer moet hulle in baie onnatuurlike en ongemaklike posisies sit om die skerm te kan sien," sê Van Niekerk.

"Wanneer hulle hierdie posisies vir die duur van 'n uur- of tweeuurlange klas moet volhou, veroorsaak dit pyn en kan dit tot permanente postuurprobleme lei."

Nog 'n studie by dieselfde eenheid het bevind dat byna 'n driekwart van alle hoërskoolleerders van rug- en nekpyn kla.

"Spinalepyn in adolessensie voorspel pyn in volwassenheid. Dit beteken dan 74% van ons hoërskoolleerders pyn sal verduur as volwassenes. Dit is 'n yslike probleem, want ons stuur hierdie kinders met 'n gebrek die volwasse lewe in, en dit sal net vererger," sê Van Niekerk.

In teenstelling met vroeëre raad oor rug- en nekgesondheid wat voorgeskryf het dat mense stilsit in die "perfekte postuur", toon nuwe navorsing nou dat om staties te sit, spanning op die ruggraat plaas.

Volgens prof Quinette Louw, ook van die Afdeling Fisioterapie, moet mense wat vir lang tye gedurende die dag sit gereeld hulle posisie verander om spanning op die spier-skelet-stelsel te vermy.

"Die beginsel van 'te veel van enigiets is sleg' is ook van toepassing op jou postuur. Om vir te lank in een posisie te bly, kan aanleiding gee tot pyn – selfs al dink jy dit is die beste posisie," sê Louw. "Maar deur gereeld die posisie van die spier-skelet-stelsel te verander sal jy spanning verhinder."

Deur die mates van die 700 hoërskoolleerders in hulle studie te gebruik, het die navorsers 'n stoel ontwerp wat die meerderheid (>80%) studente pas. Die stoel het geen rug- of armleunings nie, en die sitplek is beweegbaar.

"Ons het 'n prototipe getoets en vergelyk met die gewone stoel, en ons ontwerp laat meer beweging in die bekken, nek en borskas toe – wat baie belowend is," sê Van Niekerk.

Verdere toetsing word beplan en hulle hoop om eindelik 'n gepast en bekostigbare stoel te ontwikkel wat by alle hoërskoolrekenaarsentrums gebruik kan word.

Foto: www.pixabay.com