Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing help geamputeerde naellopers vinniger hardloop
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 01/03/2016

Atlete met onderste ledemaat-amputasies wat later vanjaar by die Rio Paralimpiese Spele aan die 400m-naelloop gaan deelneem kan dalk hul kanse op sukses verbeter deur stywer prosteses te gebruik.

Stywer prosteses help atlete in langer naellope om meer ekonomies te hardloop en kan moontlik tot vinniger tye lei, se dr Lara Grobler van die Sportfisiologie Laboratorium in die Departement Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het in ʼn onlangse doktorale studie gekyk na die meganiese aspekte van hardloop-prosteses en die impak daarvan op naelloopvertonings.

Grobler sê in haar betrokkenheid by atlete met fisieke gestremdhede het sy agtergekom  daar is ʼn behoefte aan meer kennis oor watter prostese atlete moet gebruik asook die interaksie tussen die meganiese komponente van prosteses en die biologie van atlete.

Sy wys daarop dat hoewel atlete met onderste ledemaat-amputasies en dié wat serebraal en visueel gestremd is oor die jare in naellope verbeter het, eersgenoemde die grootste verbetering getoon het danksy tegnologiese vooruitgang in hardloop-prosteses wat by byeenkomste soos die Paralimpiese Spele gebruik word.

Grobler het as deel van haar navorsing agt verskillende (vier kategoriee van twee modelle) hardloop-prosteses getoets.

Sy het die prosteses aan ʼn spesiaal-ontwerpte prostetiese sok gekonnekteer en dit aan ʼn spesifieke masjien in die gimnasium gekoppel. Sy het toe die masjien met gewigte gelaai en dit op ʼn kragplatform laat val terwyl sy die val en daaropvolgende hoppe van die prostese op ʼn hoë-spoed kamera vasgevang het. Dit het haar in staat gestel om vas te stel hoeveel druk die prostese uitoefen wanneer op die grond val, hoe lank die voet met die grond kontak maak, hoe lank die prostese in die lug bly nadat dit vanaf die grond gehop het, en die kompressie van die prostese gedurende kontak met die grond.

Grobler sê haar studie het gewys daar is ʼn verskil in styfheid tussen die twee modelle.

"Ons het die twee modelle op ʼn atleet met onderste ledemaat-amputasie getoets en gevind stywer prosteses help die atleet om meer ekonomies te hardloop. Met stywer prosteses is daar minder kontak met die grond en word werkverrigting en uitputting van senuwees en spiere verminder."

"Ons het ook gevind die prostese vir korter naellope is nie so styf was soos dié vir langer naellope nie. Die prostese vir langer naellope oefen groter druk uit wanneer dit op die grond val as die prostese vir korter naellope," sê Grobler.

"Verder het die protese vir langer naellope minder kontak met die grond gemaak en was die kompressie groter met die prostese vir korter naellope."

Grobler sê hoewel stywer prosteses atlete in langer naellope kan baat, is dit nog onduidelik of dit in korter naellope die geval sal wees aangesien geen studies hieroor gedoen is nie.

  • Foto: Dr Lara Grobler besig om die meganiese aspekte van hardloop-prosteses te toets.
  • Fotograaf: Sarah Arnold

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Lara Grobler

Laboratorium vir Sportfisiologie

Departement Sportwetenskap

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 3915

15028151@sun.ac.za