Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Reimagine'-publikasie
Outeur: Media: Opvoedkunde / Education
Gepubliseer: 20/02/2016

​Suid-Afrika is 'n land van uitdagings, veral ten opsigte van die onderrig van sy kinders, jongmense en ook sy volwassenes. Ons land word gekenmerk deur swak vlakke van geletterdheid, swak slaagsyfers en swak prestasie volgens die internasionale indekse wat die gehalte van ons skoolopleiding gradeer.

Suid-Afrika is egter ook 'n land van ​geleenthede, hoop en potensiaal. Baie van ons land se leerders ontwikkel wel tot afgeronde en veelsydige jongmense, terwyl ons studente uitblink op internasionale vlak en ons navorsers baanbrekerswerk doen.

Dit is in die lig hiervan dat die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch poog om 'n nuwe onderwysstelsel te herbedink wat sal help dat al Suid-Afrika se mense hul volle akademiese potensiaal sal bereik. 

Klik hier vir die fakulteit se 'Reimagine'-publikasie.

Sentraal tot die Fakulteit se visie is 'n verbintenis om Suid-Afrika se onderwysuitdagings trompop die stryd aan te sê en so 'n breër stelsel te herbedink waarbinne die kinders, studente en volwassenes van ons land kan floreer. Dit word gedoen deur navorsingsuitsette van gehalte te integreer met geleenthede vir institusionele ontwikkeling, praktiese onderrig, onderwystake en gemeenskapsinteraksieprojekte. 

Die ideaal is om 'n kennisbasis te ontwikkel wat voortbou op navorsing wat in die veld van onderwys, sport en onderwys-gegronde ontwikkelingspraktyke gedoen word. Dit brei ook die praktyk van opvoederontwikkeling uit om onderrig in skole sowel as volwasse-, beroeps- en hoëronderwysinrigtings te verbeter.  

Die fakulteit word erken en gerespekteer as 'n leidende en navorsingsgedrewe opvoedkundefakulteit in Suid-Afrika. Sy navorsingspogings fokus op relevante en strategies belangrike temas in opvoedkunde en die wetenskap van menslike bewegingskunde in Suid-Afrika en internasionaal. Daar is 'n soeke na oplossings wat verder strek as net die skool en wat ook die huidige aangeleenthede rakende hoër-, verdere en volwasse-onderwys, beleid, sport en opvoedkundige sielkunde aanspreek.

Deur sy navorsingspogings streef die Fakulteit Opvoedkunde ook daarna om die kapasiteit van sy jong akademiese professionele mense en nagraadse studente te vergroot, om die navorsingsfokusareas uit te brei en om die navorsingsuitsette van personeel te vermeerder deur onder meer die publisering van meer wetenskaplike referate of boeke.​