Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Afrika-boere in die digitale era: US landbou-ekonoom, Bill Gates dra by tot spesiale uitgawe
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 17/02/2016

In 'n spesiale uitgawe van die internasionale tydskrif Foreign Affairs word die naam van die Universiteit Stellenbosch landbou-ekonoom Lulama Traub gelys saam met dié van Microsoft-stigter Bill Gates en die voormalige hoof van die Verenigde Nasies, Kofi Annan. Sy is een van twintig skrywers wat meegewerk het aan dié uitgawe, waarin die posisie van boere in Afrika in die digitale era bekyk word. Die uitgawe is 'n  uitvloeisel van die Digital Thinking Inisiatief, en bespreek voedselstelsels, kleinboerdery, en die vernuwende geleenthede wat digitale tegnologie bied.

Die Foreign Affairs tydskrif word ondersteun deur die Amerikaanse Raad op Buitelandse Sake.

Die spesiale uitgawe daarvan bekyk hoe beleggings in digitale tegnologie en beleid gebruik kan word om kleinboere te bemagtig en landelike ontwikkeling te bevorder. Die skrywers van die artikels beskryf wat ʼn vooruitstrewende voedselstelsel in Afrika alles kan bereik, en lig ook konkrete stappe uit van hoe dit gedoen kan word. Na verwagting sal die kombinasie van digitale tegnologie en menslike kreatiwiteit lei tot ʼn omwenteling in die lewens van Afrika-boere, omdat dit hul uit isolasie sal lig, verandering sal versnel, en suksesse kan bevorder.

Traub het saam met dr Thom Jayne van Michigan Staatsuniversiteit in die VSA geskryf aan twee artikels. Jayne is 'n uitgelese genoot van die Vereniging van Landbou-ekonome in Afrika is. Traub, ʼn senior lektor by Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Landbou-ekonomie, ondersoek die impak van veranderende grondpryse op die produksiepraktyke van Tanzaniese kleinboere as deel van haar PhD-navorsing aan US. Sy is voorsitter van die tegniese komitee van die Streeknetwerk vir Landboubeleidnavorsingsinstitute in Oos- en Suidelike Afrika (ReNAPRI), waarvan die US ʼn lid is. ReNAPRI is 'n Afrika-geleide streekskoördineringsgroep van nasionale navorsingsinstitute in landboubeleid in nege Afrika-lidlande.

In hul eerste Foreign Affairs-artikel lys Jayne en Traub sewe ontluikende megatendense wat beleidmakers in Afrika in ag moet neem en aanspreek om voedselproduksie op 'n selfonderhoudende vlak te bring en landbou-geleide groei te verseker. In die proses weeg Jayne en Traub die ontwikkelingsverhaal van Asiese ekonomieë op teen dié van Afrika.

Onder die megatendense is die feit dat die proporsie van Afrikane wat in die landbousektor werk afneem. Die vasteland se bevolking sal egter steeds hoofsaaklik in hierdie sektor betrokke wees vir minstens die volgende dekade. Daarby is daar 'n verjongingskurwe te bespeur, met 330 miljoen jong Afrikane wat na verwagting die arbeidsmark oor die volgende twee dekades sal betree. Toenemende kompetisie vir landbougrond, makro-ekonomiese bestuur, die telekommunikasie-revolusie, wydverspreide agteruitgang in grondkwaliteit in digbevolkte Afrika-landboustelsels, en groter klimaatswisseling is ook dringende kwessies om in ag te neem.

In hul tweede artikel kyk Jayne en Traub na die toekoms van jong mense in die landbou-sakesektor. Hulle fokus op die toenemende vraag na grond in Afrika, en oorweeg die oorsake en implikasies wat dit het op die groeiende landelike bevolking en die omgewing.

Volgens me Traub het hulle aan die uitgawe begin meewerk nadat hul vroeëre artikel oor sekere megatendense binne voedselproduksie in Afrika gelees is deur Sam Dryden, ʼn senior genoot aan die Imperial College Londen. Hy is die voormalige direkteur van landbouontwikkeling van die Bill & Melinda Gates Stigting, en het saam met Kofi Annan gedien as mede-kurator van die spesiale uitgawe. Die skrywers is in November 2014 genooi na die Imperial College Londen, vir 'n dinkskrum oor kleinboere in die digitale era. Daarna het hulle begin skryf aan hul Foreign Affairs-artikels.

Volgens Traub kom van die idees daarin vanaf ʼn Horizons Scanning-oefening wat ReNAPRI-lede uitgevoer het as deel van ʼn poging om beleidmakers en mense uit die privaatsektor by versiendheidsoefeninge te betrek. So ʼn sessie is in Oktober 2015 in Maputo, Mosambiek, gehou en het 160 regeringsamptenare, akademici en verteenwoordigers van die privaatsektor ingesluit.

* Lees en laai die Foreign Affairs uitgawe hier af: http://fam.ag/20JyIQm.