Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aansoek teruggetrek na US verbintenis tot voortgesette belyning met 2015-taalmosie
Outeur: Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 12/02/2016

Afriforum het vandag (12 Februarie 2016) sy hofaansoek teen die Universiteit Stellenbosch teruggetrek. Die Universiteit Stellenbosch sal voortgaan om te verseker dat taalimplementering in fakulteite belyn is met die goedgekeurde Taalbeleid en Taalplan, en die taalspesifikasies in die 2016-jaarboeke in ooreenstemming met die Raadsbesluit van 30 November 2015.

 Die Universiteitsbestuur het reeds vroeg in Februarie 2016 aan die Raadsvoorsitter die versekering gegee dat die saak dringend aandag geniet. Die US bly verbind tot meertaligheid, nie-uitsluiting op grond van taal, en die bevordering van Afrikaans as akademiese taal.

By sy geskeduleerde vergadering van 30 November verlede jaar het die Raad ‘n mosie aanvaar waarin hy hom verbind het tot die Taalbeleid en Taalplan van 2014 en onomwonde verklaar het ”dat taal nooit enige hindernis mag wees vir enige student wat voorgraads of nagraads aan die US wil studeer, en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is nie”. Die Raad het sy ondersteuning uitgespreek vir die uitbreiding van die  Engelse akademiese aanbod mits dit nie ten koste is van die Afrikaanse aanbod nie.

Die Universiteit het ‘n hersiening van sy Taalbeleid en Taalplan geïnisieer met die oogmerk om ‘n nuwe konsep teen die einde van die eerste semester voor te lê. Hierdie hersiening sal volgens die instelling se voorgeskrewe bestuurs-en-beheerprosesse plaasvind. Die Universiteitsraad moet die Taalbeleid en Taalplan met instemming van die Senaat goedkeur. Die Universiteit sal verseker dat ‘n deelnemende proses gevolg word wat belangegroepe ‘n billike geleentheid sal gee om insette te lewer.