Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kunste-alumnus gee ʼn Suid-Afrikaanse inslag aan tradisionele Bybelstories
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 04/02/2016

Marie Prinsloo (foto), ʼn alumnus van die Departement Visuele Kunste, het onlangs haar eerste kinderboek geïllustreer, ʼn kinderbybel getiteld Bible Stories for Children, vertel deur Wendy Maartens en gepubliseer deur Random House/Struik. Lynne Rippenaar-Moses het met haar gesels oor hoe sy by hierdie projek betrokke geraak het en oor die pad wat sy geloop het van ʼn Universiteit Stellenbosch-gegradueerde tot voltydse kunstenaar, wie se werk in verskeie galerye oor die Wes-Kaap heen uitgestal word.

Vraag: Jy het pas jou eerste kinderboek geïllustreer, ʼn kinderbybel deur Wendy Maartens wat deur Random House/Struik gepubliseer is. Hoe het jy toegang tot hierdie wonderlike geleentheid gekry, en hoe voel dit om jou eerste geïllustreerde boek op die winkelrakke te sien?

Antwoord: Ek en Wendy Maartens het destyds baie lekker gesels tydens haar onderhoud met my vir die Lig tydskrif – ek dink dit was twee jaar gelede. Ons het net gekliek en kontak gehou. Met haar kinderbybel het hulle gesoek vir 'n ander aanslag wat die illustrasies betref, en sy het my aanbeveel. Die powers that be, het blykbaar gehou van my kleur- en tekstuurgebruik. Natuurlik was dit super opwindend om die projek te kry.

Wat dit ook baie lekker gemaak het, was dat Wendy baie nou betrokke was by die illustrasies. Sy het byvoorbeeld vir my 'n lys gegee van blomme, plante en diere wat sy graag wou sien in die illustrasies. So het sy byvoorbeeld mooi morning glories gehad wat gerank het voor haar venster en op 'n ander tyd, was daar orals rooi poppies om haar. Pelikane was iets wat haar oog 'n ander week gevang het, suikerbekkies en kosmos. Dit alles het die boek 'n baie meer persoonlike projek gemaak.

V: Wat het jy by die Universiteit Stellenbosch studeer en hoekom het jy besluit om daardie spesifieke graadprogram te volg bo al die ander programme wat hier aangebied word?

Ek het die skilderkuns kant van die graad gekies omdat ek mal is oor skilder en teken. Ek is nie so mal oor rekenaars nie, so grafies was dit uit en ek is ook nie presies genoeg vir juwelierskuns nie. So skilder was wat oorgebly het.

V: Het hierdie graad jou op enige manier voorberei op jou huidige loopbaan en indien wel, kan jy ons vertel hoe?

Die kursus my nie heeltemal voorberei vir wat ek vandag doen nie. Ons is byvoorbeeld glad nie geleer hoe om ons kuns te bemark en die soort ding nie.

Wat ek wel kan sê, is dat Paul Emsley 'n briljante lektor en kunstenaar is en die tekenklasse wat ek drie jaar by hom gehad het, het my baie geleer. Hy het praktiese raad gegee en sy eie werk is uitstekend.

Daar was ook 'n litografie dosent, Lyne, wat ook 'n kinderboekillustreerder was. Sy het eendag die voorsketse vir 'n boek in die klas gehad en toe het sy vir ons die uitleg gewys. Dit het 'n groot indruk op my gemaak.

V: Vertel ons meer van die boek – byvoorbeeld, wat maak dit anders as ander kinderbybels op die boekwinkelrakke?

Hierdie Bybel is anders as ander kinderbybels omdat daar baie humor en vryheid in die teks is. Dis 'n ligte aanslag en meer kontemporêr. In die Samaritaan se storie, word die ou byvoorbeeld bespring deur 'n klomp skollies van agter 'n bos en die Samaritaan neem hom dan na 'n gastehuis.

Dan het ons doelbewus baie eg Suid-Afrikaanse simbole in die illustrasies gebruik. Proteas, heide, meerkatte, speldekussings en suikerbekkies, die soort ding. Ook in Noag se storie, het ek die ark in die see laat dryf met Tafelberg onder die water.

V: Studente word dikwels ontnugter nadat hulle ʼn BA-graad voltooi het, aangesien die openbare persepsie dikwels is dat enige gekwalifiseerde kunstenaar in elk geval gaan sukkel om kop bo water te hou. Wat was jou ervaring in hierdie opsig en watter advies sal jy vir studente gee wat vandag vir ʼn BA Visuele Kunste-graad studeer?

Ja, 'n mens het definitief 'n day job nodig as jy wil oorleef as kunstenaar. 'n Day job haal die druk af en gee jou die vryheid om vry te wees in jou uitdrukking, sonder om heeltyd te probeer maak wat jy hoop sal verkoop. Dan skilder mens uit jou hart, met passie en dis lekker. Ek skilder byvoorbeeld voltyds en stal uit by verskeie galerye. Dan gee ek ook kunsklasse en maak tussendeur illustrasies vir boeke en websites.

Dit is ook belangrik om van die begin af jou bemarking reg te doen. Ek was nie bewus van hierdie dinge, soos hoe om jouself te bemark nie, so ek het allerhande ander dinge gedoen langs die pad. Dit alles het tog 'n invloed op ʼn mens se kuns, maar in vroeë jare was die voorbereiding vir oorleef met jou graad, baie karig. Dis seker nou anders.

Dit is ook goed om ʼn bemarkingskursus saam met jou kuns-kwalifikasie te doen. Dit is heeltemal teen hoe ʼn mens eintlik is as kunstenaar, maar jy kan nie net in vrede sit en skilder en hoop mense gaan net oor hulle voete val om jou kuns te koop nie. Dis harde werk en harde bemarking, die kweek van 'n dik vel en admin. Baie admin! Jy moet dit sien as 'n besigheid en jou kuns uitkry by die regte mark.

Die Bybel is beskikbaar deur die meeste groot boekwinkels en verkoop teen omtrent R155 elk. Dit word uitgegee deur Penguin Random House. Plaaslik kan dit aanlyn gekoop word deur Exclusive Books (www.exclusives.co.za) en internasionaal deur Takealot.

Om meer oor Marie te leer, besoek www.marieprinsloo.co.za.

KONTAK ONS

Alumni van die Fak ulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe lewer 'n groot bydrae tot verskeie sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing en die wêreld. Ons geniet dit om jou sukses te vier en te hoor oor die koers wat jy ingeslaan het sedert jy o ns instelling verlaat het.

So, indien jy van enige alumni hoor of self 'n alumnus is wat onlangs uitgeblink het, stuur asseblief 'n kort paragraaf oor die alumnus se, of jou eie, prestasie, sowel as die kontakbesonderhede, aan ons Kommunikasie en Skakelbeampte, me Lynne Rippenaar-Moses. Ons sal elke maand 'n kort vraag-en-antwoord-sessie met ee n van ons alumni aanbied.