Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-granaatnavorser met Afrika Unie se top-wetenskapsprys vereer
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 01/02/2016

Prof Umezuruike Linus Opara van die Universiteit Stellenbosch (US) het pas een van die Afrika Unie (AU) se grootste eerbewyse ontvang. Die AU Kwame Nkrumah Kontinentwye Wetenskapstoekenning vir senior navorsers is by die afsluiting van die AU-beraad in Ethiopië aan dié landbou-ingenieur en kenner oor aspekte rondom na-oes tegnologie oorhandig. Chemikus prof Nyokong Tebello van Rhodes Universiteit het 'n soortgelyke toekenning in die kategorie vir vroue ontvang.

Prof Opara, bekleër van die DWT-NNS Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Na-oes Tegnologie, is 'n uitgelese professor in die US Departement Hortologie. Hy is sedert 2009 aan die US verbonde, en is lid van Suid-Afrika se nasionale wetenskapsakademie, die Academy of Science of South Africa (ASSaF).

Sy navorsingspan werk oor vele dissiplines heen. Hulle word gereken as die mees toonaangewende groep navorsers wat betref die bestudering en ontwikkeling van maniere om die na-oes hantering, verpakking en bemarking van granate te verbeter. Wêreldwyd word prof Opara se individuele bydrae hiertoe ook erken, want hy word gelys as die voorste wetenskapsleier op die gebied van na-oes tegnologie waarby die granaatbedryf baat.

Sy navorsingsgroep toets en ontwikkel ook verpakking en kwaliteitskontrolemetodes wat help met die hantering en stoor van vrugte en groente soos tafeldruiwe, sitrusvrugte en appels. Hul werk is daarop gerig om onnodige voedselverliese in die vrugte- en groentesektor uit te skakel. Sy span het onlangs ook die preservering en kwaliteit van vis en die gebruik van kassawameel om brood mee te maak ondersoek.

"Dis 'n besonderse eer as 'n mens se werk deur so 'n kontinentwye toekenning vereer word, maar my navorsingspan en die industrie wat my werk en idees ondersteun verdien ook lof," reken prof Opara, wat in Nigerië gebore is. Hy het 'n graad in landbou-ingenieurswese van die Universiteit van Nigerië Nsukka behaal, asook 'n doktorsgraad van Massey Universiteit in Nieu-Seeland.

"Wetenskaplike navorsing kan 'n belangrike rol speel om die winste en volhoubaarheid van agribesighede te versterk," sê prof Opara. "Hierdie toekenning is egter besonders omdat dit ook die impak in ag neem wat ons navorsingsprojekte het op die uitbouing van menslike hulpbronne in Suid-Afrika en Afrika as 'n geheel."

Prof Opara het al as studieleier en mentor vir 18 PhD- en 21 suksesvolle MSc-studente van 15 Afrikalande gedien sedert hy in 2009 by die US aangesluit het. Verlede jaar het hy ook die IMPRESSA-toekenning ontvang.

Hy is die ere-visepresident van die Internasionale Kommissie oor Landbou- en Biosisteemingenieurswese (CIGR), en is ook ere-voorsitter van die CIGR se Seksie VI-komitee oor naoestegnologie en agroprosessering. Hy is voorsitter van die Internasionale Vereniging vir Hortologie se een groenteafdeling (wortel- en knolgroente, eetbare bolle, brassica en aspersies). Hy het voorheen gedien op die adviesraad van internasionale organisasies soos die Amerikaanse Feed the Future Program se Horticulture Innovation Lab.

​Prof Opara het die International Journal of Postharvest Technology vaktydskrif op die been help bring, en is steeds hoofredakteur daarvan. Prof Opara het reeds sowat 200 artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte en industriejoernale gepubliseer, asook talle hoofstukke in boeke. Hy is 'n gewilde spreker wat sowat 150 praatjies by internasionale kongresse gelewer het, onder meer as genooide hoofspreker. Hy dien op verskeie panele om saam met ander kenners te besin oor onder meer voedselsekuriteit, hoe om waarde tot produkte te voeg en landboutransformasie.

Meer inligting oor die AU Kwame Nkrumah Wetenskapstoekennings

Hierdie toekenningsprogram is in 2008 op die been gebring op die prestasies, bydraes en ontdekkings van top-wetenskaplikes uit Afrika te erken.

Vir meer inligting, besoek http://www.au.int/en/sites/default/files/pr_24_-_african_union_kwame_nkrumah_continental_scientific_awards_2015_edition.pdf

 

[Foto onderskrif]

Prof Linus Opara (middel) van die Universiteit Stellenbosch het die Afrika Unie (AU) se Kwame Nkrumah Kontinentwye Wetenskapstoekenning ontvang by die afsluiting van die AU-beraad in Ethiopië. By hom is die nuutverkose AU-voorsitter, mnr Idriss Deby Itno van die Republiek van Chad, en dr Nkosazana Dhlamini-Zuma, voorsitter van die AU Kommissie. Foto: Verskaf