Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Moedersterftekoers in die kollig by ReSEP-werksessie
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 01/02/2016

Dit is 'n groot bekommernis dat die moedersterfte-ratio in Suid-Afrika baie hoër bly as dié van vergelykende portuurgroepe met soortgelyke ekonomieë en vergelykbare vlakke van openbare gesondheidsbesteding.

Binne hierdie denkraamwerk het die Moedergesondheid-werksessie aangebied deur ReSEP – 'n navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid gesetel in die Departement Ekonomie by die Universiteit  Stellenbosch (US) – Maandag 25 Januarie plaasgevind.

“Ons is besorg oor moeders wat sterf en nie daar is om die kinders wat hulle verwek het, groot te maak nie. Ons is besorg oor die kinders wat groot word sonder om hul ma's te ken. Ons is besorg oor moeders en babas wat swak gesondheid, fisieke pyn en emosionele angs ervaar wat vermy of verhoed kon gewees het as hulle voldoende gesondheidsorg ontvang het,” het prof Ronelle Burger, van die ReSEP-gesondheidgroep, ter inleiding gesê.

Die belangrikheid van gehalte en doeltreffendheid binne die gesondheidsorgstelsel is uitgelig.

Dr Yogan Pillay van die nasionale gesondheidsdepartement het verduidelik dat die fokus ná 1994 aanvanklik op die verbetering van toegang tot sorg was.

“Ek dink vir minstens die eerste 10 jaar het gehalte ontbreek. Sedert 2009 het ons 'n mate van vordering gemaak, maar ons moet die voorsiening van gehalte-gesondheidsorg bespoedig.”

Hy het ook oor doeltreffendheid gepraat: Hoe om meer met minder te doen en waar mens die "beste waarde vir geld sal kry”.

Pillay het genoem dat R517 miljoen uit die nasionale gesondheidsdepartement se 2016/2017-begroting geneem is om onder meer die droogteverligtinginisiatief en universiteitsgelde te finansier.

“Ons wil meer doen, maar ons het nie die hulpbronne nie, dus is doeltreffendheid krities.”

Die gasspreker, dr Robert Pattinson van die Mediese Navorsingsraad se navorsingseenheid vir moeder- en kindergesondheidsorg, het 'n paar oplossings geïdentifiseer om die gehalte van sorg vir moeders en pasgeborenes te verbeter. Dit is:

1. Verbeter die gehalte sorg ten opsigte van geboorte

2. Konsolideer dienste om skaalbesparings daar te stel

3. Hou aan om die belangrikheid van HIV- en TB-sifting en -behandeling te beklemtoon

4. Konsentreer op die opsporing en behandeling van hipertensie voor geboorte

5. Bevorder navorsing oor die identifisering en behandeling van beperkte groei in babas voor geboorte 

“Die gehalte van sorg is swak,” het hy gesê. “Dit is bevind dat 57% van moedersterftes moontlik of waarskynlik verhoed kon gewees het.”

Hy is van mening dat die departement "die beste waarde vir sy geld sal kry" as dit op die verbetering van kraamsorg fokus, insluitend omvattende nood- verloskundige sorg. “Elke kraameenheid moet personeel hê wat opgelei is in noodsorg en gereelde noodoefeninge uitvoer,” het hy bygevoeg.

Prof Pattinson het voorts aangevoer dat die groot meerderheid kraameenhede in werklikheid onveilig is.  Hoewel daar voldoende vroedvroue per distrik is, is daar te veel fasiliteite vir die (hoeveelheid) personeel wat beskikbaar is. 

“Min gemeenskapsgesondheidsklinieke en distrikshospitale bereik die kritieke massa personeel uit om 'n veilige diens en/of het voldoende geboortes om koste-effektief te wees. Ons moet dienste konsolideer om seker te maak die kritieke massa is daar om 'n veilige eenheid te bestuur,” het hy gesê. Hy het egter bygevoeg dat laasgenoemde aanleiding gee tot moeilike kwessies rakende toegang tot dienste.

Prof Pattinson het beklemtoon dat die sifting vir HIV en TB “met ywer” volgehou moet word.

Die moedersterftekoers het sedert 2009 drasties afgeneem en hy skryf dit toe aan die vermindering van die aantal sterftes as gevolg van nie-swangerskapverwante infeksies (NSVI). Baie van die vroue wat sterf is HIV-positief en TB is die mees algemene oorsaak van dood. Deur hierdie siektes so vroeg moontlik te behandel, kan baie lewens gered word, soos die afname in die moedersterftekoers geïllustreer het.

Naas NSVI, is hipertensie die grootste oorsaak van dood.

Prof Pattinson het verduidelik dat hoewel dit onmoontlik is om te voorspel wie probleme tydens kraam gaan ervaar, is hipertensie iets wat WEL prenataal opgespoor kan word. 

Baie gesondheidswerkers in die primêre gesondheidsorgstelsel het egter nie noodwendig die kennis en vaardighede om risikofaktore te identifiseer nie.

Hy het voorgestel dat aandag gegee word aan die bestuur en diagnose van hipertensie in voorgeboortesorg deur byvoorbeeld te reël dat opgeleide personeel primêre gesondheidsorgfasiliteite besoek.

Hy het laastens die kwessie van onverklaarbare stilgeboortes aangespreek.

“In 91% van die gevalle is die moeders gesond. Net 10% van die bevolking het egter toegang tot ultraklanktegnologie. Navorsing behoort gedoen te word om 'n koste-effektiewe metode te ontwikkel om groeigestremde babas voor geboorte te identifiseer.”

Ander onderwerpe wat bespreek is, sluit in die oorsake en korrelate van laat toegang tot voorgeboortesorg in metropolitaanse Kaapstad, die Philani Mentor Moedersprogram vir gemeenskapsgesondheidswerkers en moedergesondheid en vroeë kinderontwikkeling in die "Global Strategies for Women’s, Children’s and Adolescents’ Health (2016-2030)”. Onder die sprekers was Anja Smith, Laura Rossouw en Mark Tomlinson van die Universiteit Stellenbosch, Kwanie Mbewu van Philani en Coceka Mnyani van WITS. Die geleentheid is bygewoon deur onder andere verskaffers, navorsers en beleidsmakers.

Deelnemers aan die werksessie het gesprekke oor hierdie onderwerpe baie insiggewend en nuttig gevind.

Prof Burger het ter opsomming gesê dat om verdere vordering in moedergesondheid te bewerkstellig, het die betrokke partye 'n wyer lens op die probleem, 'n meer omvattende perspektief  en definitief meer gereelde gesprekke nodig. 

Foto: Anja Smith, navorser by US, dr Yogan Pillay, prof Robert Pattinson, Laura Rossouw, navorser by US, en dr Ronelle Burger.