Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe US-studie kyk na wattelboom se invloed op waterkwaliteit
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 29/01/2016

Bewaringsekoloë aan die Universiteit Stellenbosch (US) is besig met navorsing oor hoe die kwaliteit van rivierwater verbeter wanneer indringer-swartwattelbome daaruit verwyder word. Skoonmaakprojekte langs riviere word reeds vir jare landswyd geloods in 'n poging om in Suid-Afrika se waterbehoeftes te voorsien.

"Die huidige droogtetoestande is 'n kil herinnering aan die mate waarop water 'n invloed het op ontwikkeling en 'n volhoubare Suid-Afrika," sê dr. John Simaika van die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie.

Hy het befondsing van die Suid-Afrikaanse Waternavorsingskommissie verkry om te bestudeer of die verwydering van swartwattelbome 'n verskil maak in die kwaliteit van riviere se oppervlakwater. Die projek word bestuur in samewerking met sy US-kollega, navorser dr. Shayne Jacobs.

Swartwattels is van die soorte indringerspesies wat oor die jare heen reeds die grootste nadelige impak gehad het op die verspreiding van natuurlike oewerplante en dierelewe langs die Kaapse Blommeryk se riviere.

Hierdie indringerplante groei baie vinnig en gebruik baie water. Daar is bevind dat watervloei en -beskikbaarheid styg wanneer dié bome langs riviere verwyder word. Tydens die verwyderingsproses kry natuurlike plantegroei soos fynbos die kans om weer te groei, terwyl plaaslike insekspesies soos naaldekokers dikwels terugkeer na 'n gebied. Dit word al te dikwels gesien nadat grondgebied met indringerplante deur byvoorbeeld spanne van die nasionale Werk vir Water-program skoongemaak is, en natuurlike plantegroei danksy spesifieke bestuursaksies weer gevestig is.

"Alhoewel ons weet dat watervolume styg na sulke skoonmaakpogings, weet ons min oor die effek daarvan op die werklike kwaliteit van die oppervlakwater wat deur die skoongemaakte gebiede vloei," sê dr Simaika.

Goeie kwaliteit water is nodig om te verseker dat die verskillende lewensvorme wat van 'n riviersisteem afhanklik is, kan voortbestaan of terugkeer sodra die omgewing skoongemaak is.

Die navorsingsprojek sal hoofsaaklik op die stikstofopname van swartwattels fokus en probeer vasstel of uitroeipogings 'n positiewe invloed het op inheemse waterplante, insekte en diere wat langs Suid-Afrikaanse riviere voorkom.

Dr Simaika glo dat navorsers sodoende beter sal verstaan wat met waterkwaliteit gebeur na afloop van 'n skoonmaakproses, en dat hulle meer sal uitvind oor die dinamiek verbonde aan die herstel van ekosisteme rondom strome.

Swartwattels neem stikstof uit die atmosfeer op en verryk dan die grond waarin die plante groei. Hierdie proses van stikstofherstel mag dit moontlik vir indringerplante makliker maak om aaneenliggende natuurlike plante te verdring. Navorsers weet nog nie wat met die stikstof in die grond gebeur nadat indringerplante weer verwyder is nie.

"Ons wil uitvind of dit in die rivier inspoel wanneer dit reën, of dit grondwater binnedring en of dit die suiwerheid van rivierwater benadeel," vertel dr Simaika oor sommige van die navorsingsvrae wat hy hoop om te beantwoord. "Kaapse riviere bevat min voedingstowwe en daarom kan 'n toename in stikstofvlakke moontlik 'n negatiewe kettingreaksie op die groei van alge en die diversiteit van groter insekte hê."

Drie MSc-studente is deel van die projek. Zaid Railoun ondersoek die vlak van stikstofherstel by swartwattels, sowel as hoe verteerbaar hul blare vir groter insekte is wat van binnestroomse blaarafval leef.

Kenwinn Wiener bestudeer hoeveel sediment swartwattels se uitgebreide wortelsisteme op rivierbodems en -oewers neerlê, en die hoeveelheid stikstof wat daarin opgevang kan word. Volgens dr Simaika is dit moontlik dat hierdie opbou van sediment 'n beduidende styging in die hoeveelheid stikstof in grond kan hê.

Jay-Dee Don doen navorsing oor wat die invloed van die verwydering van indringerplante is op die funksionering van waterplante en -diere wat langs riviere voorkom. Dit sluit alge, filtervreters en roofdiere in. "Die meet van hierdie funksionele diversiteit kan baie insiggewend wees en kan ons help om te bepaal of 'n spesifieke gebied gesond of aangetas is," verduidelik dr. Simaika.

 Vir meer inligting, kontak dr John Simaika van die Departement Bewaringsekologie- en Entomologie by simaikaj@sun.ac.za