Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wees veilig, Maties!
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 27/01/2016

Met die aankoms van die studente vir die nuwe akademiese jaar, doen die Universiteit Stellenbosch (US) 'n beroep op studente om mede-verantwoordelikheid te neem vir hul veiligheid en nie sagte teikens vir misdaad te wees nie.

Top veiligheidswenke sluit in:

  • Maak seker dat jy die US se noodnommer, 021 808 2333, op jou selfoon stoor. Die WhatsApp-nommer is 082 808 2333. Die nommer vir noodgevalle op die Tygerberg-kampus is 021-938-9507.
  • Moenie alleen loop nie, veral nie snags nie en dra ʼn fluitjie of pepergas saam met jou.
  • Maak altyd seker dat ʼn vriend of vriendin weet waar jy is, of saam met wie jy uitgaan.
  • Hou jou selfoon, tabletrekenaar en ander waardevolle items buite sig.
  • Kies die veiligste roete, al is dit nie die kortste nie en vermy afgesonderde areas.

Alhoewel die US reeds talle sekuriteitsmaatreëls in plek het om die kampus te beveilig, is dit belangrik om te onthou dat die US se onderskeie kampusse en omliggende areas steeds (soos oral in Suid-Afrika) die teiken vir misdadigers is. Die teenwoordigheid van duisende nuwelingstudente wat nog nie "straatslim" is nie, maak dat kampusse baie aanloklik vir misdadigers is.  

Teen die agtergrond van die Stellenbosch-kampus as oop dorpskampus met sy unieke sekuriteitsuitdagings, het die Universiteit in onlangse jare meer as R10 miljoen aan verskeie pro-aktiewe sekuriteitsmaatreëls bestee. Kern hieraan is die meer as 300 straat- en toegangsbeheerkameras wat deel vorm van die immergroeiende sekuriteitskameranetwerk.

Ook deel van dié misdaadbekampingstrategieë behels die inisiatief om misdaad deur die ontwerp van landskappering te ontmoedig. Kenmerke hiervan is onder meer die slim beplanning van wandelroetes, tuine, rusareas, ingangsportale en parkeerareas en ook maksimale sig vanuit geboue en omliggende areas op die betrokke areas.

Oor die verwelkomingsperiode lewer personeel van die US Kampussekuriteit meer as 20 praatjies by koshuise, privaatwyke en PSO-klusters om studente selfs meer van hul veiligheid bewus te maak.