Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US alumnus oorrompel teatergehore
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 27/01/2016

​'n Alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US), die akteur Marlo Minnaar, is van Maandag, 1 Februarie, op die verhoog van die Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad, te sien in die bekroonde eenmanstuk Santa Gamka.

Die teaterstuk is gebaseer op die gelyknamige roman van Eben Venter, en is self deur Minnaar in 'n toneelstuk omskep. Hy is ook die vervaardiger.

Santa Gamka het die Kanna-toekennings vir die Beste Debuutwerk, die Herrie-prys vir Kopverskuiwende Werk, asook vir Beste Regie (Jaco Bouwer) by die 2015 Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) ontvang.

Daarby is Minnaar genomineer as Beste Akteur vir sy vertolking van Lucky Marais. Die produksie het ook drie KykNET Fiësta-nominasies – vir Beste Solovertoning, Beste Nuutgeskepte Afrikaanse Produksie en Beste Regie – ontvang. (Die wenners word in Februarie aangewys.)

Minnaar was onlangs te sien in produksies soos Blood Brothers, Balbesit en Die Kortstondige Raklewe van Anastasia W.

Santa Gamka vertel die storie van 'n jong bruin man van die Karoo wat op 'n effens ongewone manier sy weg deur die lewe baan. Hy vrees om weer in armoede te verval, en word dan 'n "rent boy".

In die toneelstuk vertel Lucky die verhaal van sy sewe grootste avonture – beter bekend as sy sewe kliënte: 'n vrou wat haar seun in 'n motorongeluk verloor het, die minnares van die plaaslike hoteleienaar en olyfboer, sy Engelse onderwyser op hoërskool, die munisipale bestuurder, die boer en werkgewer onder wie sy ouers deurloop, sy tante, asook 'n jong Duitse man.

Kort voor lank, draai hy vas in sy wit leuens en bevind homself in 'n potterbakkersoond. Die Karoo het té warm geword, en sy tyd is op. Hy het net sewe minute oor om te leef en vanuit hierdie helleput neem hy sy kort lewe in oënskou.

  • Santa Gamka word in Afrikaans opgevoer in die Baxter-teater se Golden Arrow Studio vanaf 1 tot 19 Februarie om 20:15 daagliks.