Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Vanjaar aan die US' – Rektor
Outeur: Prof Wim de Villiers
Gepubliseer: 26/01/2016

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), se boodskap aan personeellede en studente (klik hier vir video-weergawe op YouTube):

REKTORSBOODSKAP:

'n Hartlike welkom aan almal aan die begin van die nuwe akademiese jaar. Die meeste van ons keer terug na die Universiteit ná die vakansie; ander is nuut. Mag 2016 vir ons almal 'n goeie jaar wees!

Daar is ongetwyfeld belangrike kwessies wat dringende aandag nodig het, maar ek is oortuig dat ons by die Universiteit Stellenbosch (US) 'n sterk fondament het om op voort te bou. Ons doen goed ten opsigte van uitnemendheid, soos weerspieël in ons suksesse wat navorsing en onderrig betref. Ons maak goeie vordering met ons strewe na inklusiwiteit deur toegang tot ons instelling te verbreed. En ons dra ook by tot 'n beter toekoms vir almal met ons impak op samelewingsuitdagings.

Hierdie aspekte behoort versterk en uitgebrei te word. Hoër onderwys is vinnig aan die verander, en alle universiteite worstel met fundamentele kwessies wat nie net hul eie voortbestaan raak nie, maar ook die welstand en vooruitgang van die samelewing. Transformasie is 'n prioriteit. Ons moet voortdurend innoveer, verander en aanpas in alle aspekte van ons wese as universiteit, of anders sal ons stagneer – of nog erger, agteruitgaan.

Voortvloeiend uit verlede jaar se verwikkelinge, is studente-befondsing steeds hoog op die nasionale agenda. Ons steun bekostigbare hoër onderwys vir almal – en gratis, gesubsidieerde onderwys vir akademies-verdienstelike studente wat dit geldelik nie breed het nie – maar alle universiteite is tans steeds afhanklik van studentegelde om van hul kostes te dek. Ons verwelkom die staat se bykomende finansiering aan universiteite en aan die hulpskema vir studente. Ons sal ook insette lewer aan die presidensiële kommissie van ondersoek, en ons sien uit na bevredigende uitkomste.

Die US verskaf beduidende steun aan finansieel-behoeftige studente – uit ons eie en toegewese fondse – maar daar is steeds 'n behoefte aan bykomende hulp. In die lig hiervan het ons Studenteraad met 'n wonderlike inisiatief vorendag gekom om geld in te samel vir studente wat vir studies aan die US aanvaar is, maar nie die nodige bewys van voldoende fondse het om te kan registreer nie. Die veldtog se naam is #RegisterALL, en ons moedig almal aan om 'n bydrae te maak. Die fondse wat ingesamel word, sal deur ons Beurse en Leningskantoor bestuur word.

Nog 'n dringende kwessie is taal. Sommige mense is bang dat ons gebruik van Afrikaans studente wat verkies om in Engels te studeer kan uitsluit; ander is weer bang dat ons gebruik van Engels ʼn bedreiging inhou vir Afrikaans. Laat ek hierdie vrese besweer deur te sê die Universiteit is verbind tot meertaligheid sonder enige uitsluiting. Aan die einde van verlede jaar het ons Raad bevestig dat "taal nooit 'n hindernis mag wees vir enige student wat glad nie Afrikaans magtig is nie, of slegs tot die minimum vereiste vlak Engels magtig is."

Ons brei dus parallelmediumonderrig (afsonderlike Afrikaanse en Engelse klasse) verder uit. As jy nie Afrikaans verstaan nie, sal jy die inligting wat jy nodig het in Engels ontvang – dit is ons verbintenis. En as jy sukkel met akademiese Engels sal jy ook ondersteun word. Met betrekking tot die administratiewe taal van die Universiteit word Engels en Afrikaans gebruik, maar dieselfde rigsnoer om niemand uit te sluit nie, is van toepassing.

Op ons transformasiereis is betekenisvolle dialoog noodsaaklik. Die bestaan van verskillende belangegroepe is 'n gegewe, maar ons moet met mekaar praat en na mekaar luister in die soeke na gemene grond. Dit is waarop die idee van 'n "oop gesprek" berus. 'n Universiteit is 'n plek van idees in die soeke na antwoorde. Verskillende standpunte word verwelkom – selfs al maak dit ons ongemaklik.

As deel van die oop gesprek mag daar van tyd tot tyd protesaksie wees. Ingevolge die Grondwet het almal die reg tot wettige en vreedsame protes, hoewel akademiese of administratiewe aktiwiteite nie ontwrig moet word nie, almal se regte gerespekteer moet word, en niemand verhinder mag word om by die Universiteit te studeer of te werk nie. Ons het 'n gedeelde verantwoordelikheid om ons instelling en al ons mense, eiendom en aktiwiteite te beskerm.

Die US is 'n nasionale bate wat 'n kritieke diens aan die hele land lewer. Daarom streef ons daarna om 'n inklusiewe, verwelkomende tuiste vir almal te wees. Almal is geregtig daarop om met respek en menswaardigheid behandel te word, ongeag kleur, geloof, geslag of seksuele oriëntasie.

As jy die huidige verwelkomingspraktyke of universiteitstradisies verouderd vind, help ons om nuwe tradisies te skep – gepas vir ons tyd en verbintenis tot inklusiwiteit. Maar laat ek dit baie duidelik stel dat diskriminasie en verontmensliking nie geduld sal word nie. Stuur 'n e-pos aan unfair@sun.ac.za om teistering, viktimisering of diskriminasie aan te meld by ons nuwe Eenheid vir Gelykwaardigheid.

As jy hulp nodig het in 'n noodgeval, skakel ons 24-uur-krisisnommer: 082 557 0880. Wat veiligheid en sekuriteit betref, kyk mooi na jouself en na mekaar, en pas jou besittings op. Moenie huiwer om Kampussekuriteit vir hulp te vra nie – skakel 021 808 2333.

Ons beskou die toenemende diversiteit in ons studente- en personeelkorps aan die Universiteit as 'n wonderlike bate vir beide die akademiese en persoonlike ontwikkeling van almal wat hier studeer en werk. Kom ons beweeg vanjaar almal saam vorentoe.

Alles van die beste vir 2016!