Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe navorsing oor genetika van Suider-Afrika se luiperds
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 18/01/2016

Luiperds wat probleme vir boere of die plaaslike bevolking veroorsaak, moet liefs nie verder as 100 kilometer van waar hulle gevang is, verskuif word nie, omdat dit hul natuurlike genetiese struktuur en diversiteit kan ondermyn.

Dit is een van die bevindings van 'n omvattende analise van die genetiese struktuur van die Suider-Afrika luiperd (Panthera pardus), wat deur 'n multidissiplinêre span navorsers uit Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk, Australië, Noorweë, die Verenigde State van Amerika en Frankryk gedoen is.

Die resultate van die studie is onlangs in die vaktydskrif Comptes Rendus Biologies gepubliseer.

Prof. Conrad Matthee, 'n evolusionêre bioloog van die Universiteit Stellenbosch en die senior skrywer van die navorsingsartikel, sê die goeie nuus is dat die Suider-Afrika luiperdbevolking 'n gesonde genetiese struktuur toon: "Ons luiperds beskik oor 'n hoë genetiese diversiteit, met relatiewe lae vlakke van inteling. Hulle is dus nie so blootgestel aan die tipiese probleme wat met inteling gepaard gaan nie."

Hierdie prentjie kan egter verander indien daar voortgegaan word om probleemluiperds summier na ander gebiede te verskuif om sodoende konflik met mense te verminder: "Individuele luiperds vanuit die Wes-Kaap is geneties verskillend van die individue in KwaZulu-Natal wie se DNS ons ontleed het, en ook verskillend van die luiperds in Mosambiek. Sodra jy met die natuurlike genepoel begin inmeng, is jy besig om met die natuurlike proses van die natuur in te meng."

Prof. Matthee waarsku dat laasgenoemde inmenging in die natuurlike ruimtelike genetiese verspreiding van die diere, probleme kan veroorsaak: "Diere pas by hul plaaslike omgewing aan en die aanpassings wat werk vir die Wes-Kaap se diere gaan waarskynlik nie so goed vaar in die Nasionale Kruger Wildtuin nie. Die genepoel kan dus verder verswak indien luiperds uit verskillende geografiese areas met mekaar paar – dit verswak hul vermoë om in daardie gebied te oorleef."

Hy verduidelik verder dat die verskille tussen die groepe oor tyd ontwikkel het deur middel van 'n proses wat bioloë "genetiese variasie weens afstand" noem: "Dit beteken dat wanneer ons individue vergelyk wat groot geografiese afstande van mekaar af voorkom, hulle nie veel genetiese inligting in gemeen het nie. Maar wanneer die afstand tussen individue kleiner is, is daar groter ooreenkomste tussen hulle genetiese profiele. Alhoewel die Suid-Afrikaanse luiperdbevolking dus dieselfde stamvader het, het genetiese verskille oor tyd ontwikkel tussen die verskillende groepe in die verskillende gebiede in die land.

Op grond van hierdie inligting het die navorsers toe probeer vasstel wat die maksimum afstand is wat mens 'n luiperd in die Wes-Kaap kan skuif sonder om in die natuurlike proses in te meng. Dit is gedoen deur gebruik te maak van die genetiese verskille tussen bevolkings, grote van individuale luiperds se tuisgebied, asook die verhouding tussen die aantal mannetjies en wyfies in 'n area in ag te neem. Met ander woorde, hoe ver kan 'n probleemluiperd geskuif kan word sonder om die grondgebied van 'n ander, geneties verskillende groep luiperds te betree.

Die antwoord hierop was: nie verder as 82 km nie.

"Dit is 'n uiters komplekse proses om die konflik tussen mense en luiperds te bestuur. Verskuiwing van die luiperds lyk gewoonlik na die maklikste opsie, maar is selde effektief. Luiperds is bekend daarvoor dat hulle ná verskuiwing tot 500 kilometer ver sal loop om na hul grondgebied terug te keer. Met die terugreis, gaan hulle voort om vee te vang en selfs op groter skaal," waarsku hy.

Prof. Matthee sê hierdie navorsing is die eerste stap in die ontwikkeling van riglyne om die natuurlike genetiese struktuur en diversiteit van die Suider-Afrikaanse luiperdbevolking te bestuur.

Die navorsingspan is bygestaan deur verskeie privaat individue, sowel as instansies soos Cape Nature, die Kaapse Luiperd Trust, Panthera en die Niassa Karnivoorprojek in Mosambiek. Hulle het gehelp om DNS te versamel van 145 luiperds afkomstig uit die Nasionale Kruger Wildtuin, die Mkuze en Phinda Natuurreservate in KwaZulu-Natal, die Baviaanskloof Wêreld Erfenisgebied in die Oos-Kaap, Niassaprovinsie in Mosambiek en die suide van Zimbabwe.

Ander interessante bevindings:

  • Die kleiner Kaapse luiperd is nie 'n afsonderlike spesie wat apart staan van ander luiperds in Suid-Afrika nie.
  • Luiperds van Mosambiek vorm 'n aparte groep, terwyl luiperds van die Wes-Kaap die meeste van hul genetika deel met individue in die Oos-Kaap. Phinda en Mkuze se luiperds is ook nou verwant.
  • Luiperds in die Limpopo- en Mpumalangaprovinsies toon tans die grootste genetiese diversiteit.

Het jy geweet?

  • Luiperds is basies alleenlopend en gaan uit hulle pad om mekaar te vermy. Elke individu het 'n "tuisgrondgebied" wat oorvleuel met die van hul bure; die mannetjies se grondgebied is baie groter en oorvleuel gewoonlik met verskeie wyfies s'n. 'n Luiperd duld gewoonlik nie betreding van sy eie gebied nie, behalwe vir paringsdoeleindes. Onverwagse ontmoetings tussen luiperds kan lei tot gevegte.

 

  • Die wyfies skenk tipies geboorte aan 'n werpsel van twee of drie welpies. Sy los haar nomadiese leefstyl totdat die welpies groot genoeg is om haar te vergesel. Sy steek hulle weg vir die eerste ag weke en skuif hulle dan van die een gebied na die ander totdat hulle oud genoeg is om te leer jag. Die welpies leef saam met hulle ma vir twee jaar.

 

http://www.awf.org/wildlife-conservation/leopard

http://capeleopard.org.za/research/leopard

Cape Mountain Leopards

 

Onderskrif:

Luiperds wat probleme vir boere of die plaaslike bevolking veroorsaak, moet liefs nie verder as 100 kilometer van waar hulle gevang is, verskuif word nie. Sodoende kan die natuurlike genetiese verspreiding van luiperds in Suider-Afrika bewaar word. Foto's: Brian van Wilgen en Danie Brink

 

Kontakbesonderhede

Prof. Conrad Matthee

E: cam@sun.ac.za

T: +27 _21 808 3957