Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IPB vier die einde van 2015
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 13/01/2016

Ter afsluiting van 'n suksesvolle 2015 het die studente en personeel van die Instituut vir Plantbiotegnologie op Vrydag, 4 Desember, byeengekom om terugvoer oor navorsingsvordering te gee en daarna by die jaareindfunksie te ontspan.

Twee maal 'n jaar moet alle nagraadse studente aan die IPB terugvoer oor vordering met hulle navorsingsprojekte gee. Die navorsingsdag dien as 'n geleentheid vir studente om hul eweknieë en toesighouers te beïndruk met navorsingsresultate en nuwe wetenskaplike bevindinge wat die vorige ses maande uit laboratoriumwerk bekom is. Personeellede gebruik ook die geleentheid om potensiële eksperimentele probleme en tekortkominge uit te wys; als met die doel om die tyd te beperk wat nagraadse studente neem om hul navorsing en tesisse te voltooi, soos bepaal deur die tydraamwerk vir meesters‑ en doktorsgrade aan die Universiteit Stellenbosch.

Die dag is ingelei met 'n verwelkoming deur dr James Lloyd, personeelkoördineerder, gevolg deur die aanbiedinge van MSc‑ en PhD‑studente; waarna dit met 'n byeenkoms by Rusticana afgesluit is. Ná die aankoms by Rusticana het studente en personeellede langs die swembad ontspan om van werksverwante stres wat in 2015 opgebou het, ontslae te raak. Dit is gevolg deur 'n heerlike driegangbuffet. 'n Geesdriftige dansery en lang besprekings met 'n drinkding in die hand het die dag tot sy einde gebring.

Die IPB bedank mev Pauliane Davidse vir die lieflike aand wat sy gereël het om die IPB se aktiwiteite op 'n feestelike noot af te sluit.