Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IPB by ICAR verteenwoordig
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 11/01/2016

Arabidopsis thaliana is ʼn biologiese model wat reeds grondig nagevors is. Dit is die eerste plantspesie waarvan die volledige genoom opeengevolg is en gereeld gebruik word om geenfunksie te bepaal en komplekse fisiologiese bane in plante te ontrafel. Navorsing oor Arabidopsis word op ʼn mededingende navorsingsgebied gedoen, waar eksperimentele beplanning en uitvoering van ʼn uiters hoë standaard moet wees ten einde die publikasie van resultate in portuurbeoordeelde internasionale plantnavorsingsvaktydskrifte moontlik te maak. By die Instituut vir Plantbiotegnologie sluit verskeie nagraadse navorsingsprojekte werk aan Arabidopsis in, en dit is ʼn voortdurende uitdaging om op hoogte te bly van die bekendstelling van resultate van internasionale plantwetenskaplaboratoria. As deel van pogings om ons nagraadse studente aan voorpunt-plantbiotegnologienavorsing bekend te stel, stel ons ons PhD-studente aan internasionale gehore bloot waar hulle hul wetenskaplike bevindinge kan kommunikeer en bespreek.

Moet hierdie doel voor oë het me. Bianke Loedolff onlangs die grootste jaarlikse internasionale plantnavorsingskongres, die International Conference on Arabidopsis Research (ICAR 2015, Parys, Frankryk), bygewoon, waar sy ʼn deel van haar PhD-werk aangebied het. Haar opsomming is as slegs een van 15 (uit 580) gekies vir ʼn flitsplakkaataanbieding tydens die kongressessies. Die werk is getiteld A single gene (RS4, At4g01970) is responsible for seed specific-biosynthesis of the raffinose family oligosaccharides (RFOs) raffinose and stachyose in Arabidopsis. Sedert die kongres het Bianke haar PhD oor hierdie onderwerp suksesvol voltooi en haar graad is by die gradeplegtigheid in Desember toegeken.