Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-student van US se baanbrekerswerk met KI-app bring hoop vir werksoekers
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 24/07/2025

'n PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n baanbrekende kunsmatige intelligensie (KI)-applikasie ontwikkel wat kan help om Suid-Afrika se werkloosheidskrisis aan te spreek deur die werkaansoekproses te outomatiseer.
Thabo Maibi, wat tans in die eerste jaar is van sy doktorale studie in bedryfsingenieurswese met 'n fokus op KI en kankernavorsing, is die skepper van die selfoonapp Career Agent. Hierdie app skandeer webwerwe wat vakante poste adverteer vir gepaste poste wat by 'n gebruiker se CV pas en doen dan namens hulle aansoek.
Maibi sê hy het die idee vir die app gekry toe hy besef het dat baie jong Suid-Afrikaners met slegs 'n matrieksertifikaat sukkel om werk te kry omdat die meeste platforms geleenthede prioritiseer wat 'n graad vereis. Selfs kandidate met grade staar uitdagings in die gesig en mis dikwels geskikte geleenthede weens swak CV's of 'n gebrek aan toegang tot die regte kanale.
Career Agent is met toeganklikheid en skaal in gedagte ontwerp en trek reeds die aandag van beleggers en werksoekers regoor die vasteland.
Maibi weet hoe dit voel om ure te spandeer om werkaansoeke in die digitale ruimte in te dien. "Terwyl ek nog aan die Nasionale Universiteit van Lesotho gestudeer het, het ek ure lank gespook om dieselfde inligting oor en oor te kopieer en te plaas vir werkaansoeke," onthou hy. "Soms was daar 'n antwoord op 'n aansoek, maar meestal niks nie." Nou het Maibi nie net vir homself nie, maar moontlik vir miljoene regoor Afrika, 'n oplossing gevind.
Sy uitvinding is 'n KI-aangedrewe selfoonapplikasie wat aanlyn werkportale skandeer, poste met 'n gebruiker se CV vergelyk en as 'n geskikte pos gevind word, stuur dit 'n persoonlike aansoek namens jou. "Career Agent is soos om 'n persoonlike assistent te hê wat nooit moeg word nie," verduidelik Maibi. "Dit kyk na jou CV, verstaan jou vaardighede en gaan soek dan vir jou werk terwyl jy op ander dinge kan fokus. As 'n geskikte werksgeleentheid 'n kontak-e-pos insluit, doen dit namens jou aansoek, dit heg jou CV aan en 'n professionele boodskap aan die werkgewer word namens jou gestuur."
Hierdie outomatiese benadering is 'n ambisieuse reaksie op een van Suid-Afrika se grootste uitdagings: jeugwerkloosheid – tans van die hoogste ter wêreld. Vir Maibi is dit van persoonlike belang. "Ek het in Lesotho grootgeword waar jongmense sukkel om werk te kry," verduidelik hy. "Baie is van Facebook-plasings of mondelinge inligting afhanklik omdat werkgeleenthede net nie vir hulle sigbaar is nie."

Van hackathons tot hoë impak

Maibi se pad van die Nasionale Universiteit van Lesotho, waar hy sy voorgraadse studie in rekenaarstelsel- en netwerkingenieurswese voltooi het, na die US is gekenmerk deur volharding, weetgierigheid en 'n diep begeerte om probleme op te los. Dit was terwyl hy met sy meestersgraad in datawetenskap besig was dat sy idees rondom outomatiese werksaansoeke begin kristalliseer het – deels danksy die hackathons waarvoor hy deur die Universiteit se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke ingeskryf het.
"Die ervaring by die US is wonderlik," sê hy. "Ek het al briljante mense ontmoet en die geleentheid gekry om aan betekenisvolle uitdagings deel te neem en saam te werk. Die omgewing het my aangemoedig om idees te toets en oplossings te bou wat in die regte wêreld werk."
Career Agent is só 'n oplossing. Deur 'n kombinasie van natuurlike taalverwerking, sentiment-analise en OpenAI se API vir stem- en teksverwerking te gebruik, ontleed die toepassing beide CV's en posbeskrywings. "Dit vergelyk wat in die CV is met die vereistes wat in die advertensie vermeld word. Dit kontroleer jou ligging, kwalifikasies en sleutelwoorde," verduidelik hy. "As alles ooreenstem en 'n e-posadres beskikbaar is, doen dit outomaties aansoek. Indien daar nie 'n e-pos is nie, stuur dit 'n aanbeveling en skakel na die gebruiker per e-pos om persoonlik vir die pos aansoek te doen."
Om die rommelposstrik en fop-werkadvertensies te vermy, het Maibi 'n kenmerk ingebou wat die werking van Applicant Tracking Systems (ATS) weerspieël. Dit word deur werwers gebruik om CV's te skandeer. Maibi se toepassing kontroleer en beoordeel elke CV voordat dit ingedien word en stel selfs verbeterings voor.
'n Stem-na-teks-funksie is met toeganklikheid in gedagte ontwerp. "Ek weet baie mense hou nie van tik nie, of hulle het nie geredelike toegang tot rekenaars nie," sê hy. "Nou kan jy met die toepassing praat, dit meer oor jou agtergrond vertel, waarna dit 'n professionele CV vir jou bou."
Die applikasie funksioneer via 'n betroubare webdiens, ontwerp om dataprivaatheid te prioritiseer, iets wat Maibi ernstig opneem. “Ons stoor gebruikersinligting op 'n aparte, veilige bediener. Ek het seker gemaak dat alles voldoen aan die regulasies oor databeskermings," sê hy.

Die groter prentjie

Career Agent soek tans deur 'n groot verskeidenheid werkportale in Suid-Afrika, Botswana en Eswatini, met 'n paar tuiswerkgeleenthede in die buiteland. Maibi vermy ongeverifieerde werwingsplatforms om gebruikers teen swendelary te beskerm. "Ek het die navorsing gedoen. Ek sluit slegs betroubare bronne in," beklemtoon hy.
Gebruikers betaal vir eers R400 om vir drie maande in te teken. Maar Maibi is hard op soek na beleggers om hom te help om die platform gratis aan gebruikers beskikbaar te stel. "My doel is toeganklikheid," sê hy. "Uiteindelik wil ek hê maatskappye moet poste direk op die toepassing adverteer en CV-konsultante sal uiteindelik hul dienste teen 'n tarief bied op die app. Op hierdie manier sal gebruikers niks hoef te betaal nie."
Al het hy baie goed soos sy PhD-navorsing en ander tegnologieprojekte wat hom besig hou, gee Maibi se missie vir hom energie. "Ek het nog altyd daarvan gehou om werklike probleme op te los. Selfs gedurende my meestersgraad het ek dinge gebou, aan hackathons deelgeneem en maniere probeer vind waarop tegnologie kan help."
Uiteindelik is dit Maibi se doel om Career Agent se reikwydte regoor ​​die vasteland uit te brei. "Mense van Namibië, Botswana en ander lande reik reeds uit," sê hy. "Met beleggings kan ons 'n sterk ontwikkelingspan bou, die platform verbeter en sy reikwydte uitbrei. Maar die hoofidee bly dieselfde: om mense te help om met waardigheid en sonder stres werk te vind."

  • Hier is die skakel​ na die Career Agent app in die Google Play Store.