Die nege maande lange, deeltydse SBA-ontwikkelingsprogram word met behulp van vier intensiewe weke in verskeie hulpbronarm gemeenskappe aangebied. Dit sluit Kaapstad, Stellenbosch, Aliwal-Noord, Oos-Londen en Springbok in. By voltooiing daarvan ontvang deelnemers ʼn sertifikaat van die Universiteit Stellenbosch (US).
ʼn Kenmerk wat hierdie program onderskei, is die mentorskapkomponent. Elke deelnemer ontvang minstens 12 uur se een-tot-een mentorskap van professionele besigheidslui en alumni van die Stellenbosch Besigheidskool. Dié sessies help deelnemers om hul nuutverworwe kennis toe te pas; gemotiveerd te bly; en hulle persoonlike en professionele selfvertroue op te bou.
Tot dusver het meer as 400 deelnemers die program suksesvol voltooi. ʼn Omvattende studie in 2022 het die wesenlike impak van die SBA op sy alumni en hul ondernemings belig. Graduandi het verbeterde sakevaardighede en verhoogde entrepreneuriese ondernemingsgees aan die program toegeskryf, terwyl nuwe geleenthede hul pad gekruis het weens hul betrokkenheid by die program.
Die studie het bevind dat alumni-ondernemings goed presteer en dat 91.8% van hulle voltydse personeel en 88.9% deeltydse personeel in diens het. Talle het gerapporteer dat hulle ondernemings aansienlik uitgebrei het.
Van deurslaggewende belang is dat die meeste van hierdie werk in gemarginaliseerde, lae-inkomste gemeenskappe gebaseer is en dus in die stryd teen werkloosheid en sosio-ekonomiese ongelykheid help.
Alumni-ondernemings strek oor ʼn wye verskeidenheid sektore, waarvan die mees algemene vervaardiging en konstruksie; skoonheid en gesondheid; kleinhandel; advertensies en bemarking; en spyseniering is.
“Deur deelnemers met noodsaaklike vaardighede toe te rus, bemagtig die program hulle om hul ondernemings doeltreffender en winsgewender te bedryf. Dit bevorder ekonomiese aktiwiteit en veroorsaak ʼn rimpeleffek waarby hulle hele gemeenskap baat,” voeg prof Bam by.
Maar die impak van die SBA eindig nie op gradedag nie. Die SBA Groei-inisiatief sorg vir voortgesette ondersteuning by wyse van gevorderde mentorskap, werksessies en meestersklasse. Dit help graduandi om hul nuutverworwe kennis te versterk, by hul groeiende ondernemings aan te pas en steeds hul gemeenskappe te ondersteun.
Die SBA het ook ʼn navorsingseenheid wat ondersoek instel na kleinsake-ontwikkeling en mentorskapmodelle regoor Suider-Afrika. Inligting wat ingewin word, help om die program te verfyn en dra tot ʼn grondige begrip by van die uitdagings verbonde aan kleinsake-ondernemings.
Verder help studente van beide die Stellenbosch Besigheidskool en internasionale uitruilprogramme SBA-entrepreneurs met praktiese projekte, soos om webwerwe te bou, bemarkingstrategieë te ontwikkel en finansiële stelsels op te stel. Dit skep ʼn wedersyds voordelige leerervaring: studente kry praktiese blootstelling aan besighede en entrepreneurs ontvang waardevolle ondersteuning.
Die SBA-ontwikkelingsprogram – met sy strategiese intervensies en tasbare resultate – is ʼn baken van hoop wat ekonomiese bemagtiging en inklusiewe groei in Suid-Afrika se kleinsake-ekostelsel bevorder.
Deur akademiese insig met praktiese impak te kombineer, het die SBA ʼn stukrag vir transformasie geword – een entrepreneur op ’n slag.
- Prof Armand Bam is in 2024 met US se individuele Sosiale Impak-toekenning vereer vir sy onwrikbare toewyding om betekenisvolle maatskaplike verandering te bevorder, veral op die gebied van sistemiese ongelykheid.
- Die SBA is van donateurs afhanklik om sy aktiwiteite te ondersteun en deelnemers se programgelde te borg. Indien u die SBA wil ondersteun, kontak asb. vir mev Neeshia Ambalavanam by e-pos: neeshia@stellenboschbusiness.ac.za.