Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Malawiese afvaardiging besoek US vir normontwikkeling van nuwe kurrikulum vir mynbouprogram
Outeur: Faculty of Science (media and communication)
Gepubliseer: 22/07/2025

​'n Afvaardiging van Malawi se hoëronderwys- en mynbousektore het die Departement Aardwetenskappe en die Departemente Chemiese Ingenieurswese en Siviele Ingenieurswese van 17 tot 18 Julie 2025 besoek met die oog op kurrikulum-normvasstelling.

Volgens dr Abraham Sineta, programbestuurder by die Malawi Universiteite-ontwikkelingsprogram (MUDEP), maak die besoek deel uit van hul mandaat om die totstandkoming van 'n nuwe openbare universiteit in Malawi – met 'n spesialisveld in mynbou – te fasiliteer.

“Ons is in die stadium waar ons graag wil begin om kurrikulum vir hierdie nuwe universiteit te ontwikkel. Aangesien die US se Departement Aardwetenskappe 'n omvattende kurrikulum in mynbou aanbied, is ons hier om meer te leer."

Die Malawiese afvaardiging het bestaan uit afgevaardigdes van MUDEP, universiteitsdosente van drie openbare universiteite – naamlik die Malawi Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (MUST), die Universiteit van Malawi (UNIMA),  en die Malawi Universiteit van Besigheid en Toegepaste Wetenskappe (MUBAS) – en amptenare van die Ministerie van Hoër Onderwys en die Ministerie van Mynbou.

Een van die afgevaardigede, dr Joshua Chisambi, is 'n alumnus van die departement en is tans werksaam by die Departement Mynbou-ingenieurswese by MUBAS.

Prof Bjorn von der Heyden sê tydens die tweedaagse besoek het hulle die Malawiese afvaardiging 'n oorsig gebied van die struktuur van die Universiteit, die Fakulteit Natuurwetenskappe en die Departement Aardwetenskappe. Daarbenewens is spesifieke klem geplaas op die programspesifieke kurrikulumontwerp, wat ook omvattende insigte in die onderskeie kursusse se inhoude, assesseringsmetodes en balans tussen praktiese en teoretiese vaardighede ingesluit het. Die belangrikheid van goed afgeronde gegradueerdes en hul vermoëns is ook beklemtoon, aangesien dit juis hiérdie eienskappe is waarvoor US se aardwetenskap-alumni bekend is en van hul gewaardeerde werknemers in die Suider-Afrikaanse minerale sektor maak.  

Op die tweede dag van die besoek het die besoekers eers 'n oorsig gekry van die wêreldklas- instrumentasie en dienste van die Sentrale Analitiese Fasiliteit, voor hulle verdere wetenskaplike en opvoedkundige gesprekke met navorsers van die Departemente Chemiese Ingenieurswese en Siviele Ingenieurswese wat in die mineraalsektor werk.

Prof Susanne Fietz, hoof van die Departement Aardwetenskappe, het die belangrikheid van hierdie intra-Afrika-interaksies beklemtoon. “Hierdie besoek versterk die US en departement se erkenning as 'n toonaangewende instelling in geowetenskapsonderrig. Deur Malawi se inisiatief te ondersteun om 'n nuwe skool vir mynbou te vestig, skep ons nuwe geleenthede vir gesamentlike kurrikulumontwikkeling en studente-uitruiling regoor Afrika. Ons het ook sinergieë geïdentifiseer tussen die navorsingsbelange van ons Malawiese kollegas en ons eie departmentele aktiwiteite wat ons verder sal verken in toekomstige samewerkingsgeleenthede."

Volgens die Wêreldbank is Malawi gereed om 'n beduidende speler in die globale mynbousektor te word, met projeksies van 'n potensiële uitvoerverdienste van $43 miljard tussen 2025 en 2040. Verskeie mynbouprojekte met 'n hoë potensiaal wat uraan, rutiel, en seldsame aardelemetne insluit, dryf hierdie optimistiese vooruitsigte aan, met die sektor wat na verwagting aansienlik tot Malawi se BBP sal bydra. 

Op die foto bo, op besoek aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Aardwetenskappe in Julie 2025: Voor, van links na regs: Medeprofessor Chikondi​ Chisenga, Charles Mkomba (FCCA), Dr. Joshua Chisambi, Dr. Abraham Sineta, Dr. Dyson Moses, Dr. Valentino Zimpita, Dr. MacPherson Matewere, Me. Ruth Mumba, Me. Fanny Mthunzi en Mnr. George Maneya.  Agter, van die US: Prof. Bjorn von der Heyden, Dr. Ryan Tucker, Dr. Matthew Mayne, Dr. René Heyn, Dr. Martin Klausen, Prof. Gary Stevens, Prof. Alakendra Roychoudhury, Dr. Amy Allwright, en Prof. Susanne Fietz. Foto: Wiida Fourie-Basson