Werklike leiers hoef nie 'n titel te hê om te kan lei nie
Thembalethu Seyisi deel die stories wat hom aanmoedig tot grootsheid
“Hierdie boek vang die essensie vas van wat dit beteken om met 'n doel te leef."
Dit is die wyse woorde van Prof Thuli Madonsela, Direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US). Dit vang die essensie vas van 'n merkwaardige nuwe boek, 25 Life Lessons @ 25, deur 'n jong en inspirerende leier, Thembalethu Seyisi. As 'n navorser aan die US se Sentrum vir Sosiale Geregtigheid, is hy ook die medestigter van die Academic Inclusion Drive (AID), 'n nie-winsgewende organisasie wat die finansieringsveldtog #Action4Inclusion ondersteun, 'n veldtog met die doel om studenteskuld te verlig.
Wanneer jy Thembalethu ontmoet (sy naam spel 'ons hoop' in isiXhosa), sal jy gou besef dat hy geen gewone 25-jarige is nie. Toe hy op 2 Desember 2020, tydens die COVID-19-pandemie, mondig geword het, het hy gekies om hierdie mylpaal nie met 'n groot partytjie te vier nie, maar eerder sy tyd en energie belê in die samestelling en selfpublisering van sy eerste boek: 21 Life Lessons @ 21. “Ek was geweldig bevoorreg dat uitsonderlike Suid-Afrikaanse vroue en mans my geïnspireer en gementor het. Ek wou hê dat ander jongmense ook die liefde, genade en inspirasie moes ervaar waarby ek gebaat het," het hy geskryf.
Thembalethu sê sy eerste boek is “gebore uit 'n oomblik van krisis en deernis. Op 21 het ek twee hartverskeurende realiteite in die gesig gestaar: 'n Dierbare vriendin kon nie aan die universiteit gradueer nie weens historiese skuld. 'n Ander vriendin was gemoeid met, wat later 'n verkeerdelike diagnose van 'n terminale siekte was. Sy kon weer nie haar mediese uitgawes dek nie. Ek het met die krag van die krag van storievertelling en gemeenskap, 21 merkwaardige individue genader om hul lewenslesse en wysheid te deel wat ek in 'n boek vervat het. Die opbrengs van die verkope kon my vriende help en ook die #Action4Inclusion veldtog ondersteun het. Hierdie ervaring het my geleer dat ons selfs in ons donkerste oomblikke, lig vir ander mense kan skep."
Vir 25 Life Lessons @ 25 het Thembalethu dieselfde resep gevolg: hy het 'n lys gemaak van mense wat hy ken wat hom inspireer en hulle gevra om die vraag te beantwoord: "Wat is die een ding wat jy wens jy geweet of anders gedoen het op 25?" “Hierdie boek is 'n viering van hul reise en wordingsprosesse. Soos jy hul stories lees, besef jy niemand stap 'n pad alleen nie; ons word almal gevorm deur die stemme, ervarings en die vrygewigheid van diegene rondom ons," skryf hy.
25 Life Lessons @ 25, uitgegee deur Uhlanga Books, is een van daardie boeke wat tyd laat stilstaan. Prof Madonsela se wyshede lok jou in die bladsye in waar sy hulde bring aan Thembalethu: “Die wyse waarop hy hierdie unieke leiers beïnvloed en geïnspireer het om oor lewenslesse te skryf ter viering van sy 25ste verjaardag en ter ondersteuning van #Action4Inclusion en AID, het Themba gewys dat ware leiers nie toestemming of 'n titel nodig het om te lei nie. Die merkwaardige vermoë om hierdie stemme bymekaar te bring, weerspieël sy uitsonderlike leierskap en gawe om dialoog oor generasies, agtergronde en ervarings heen te bevorder."
Die bekroonde joernalis Athi Mtongana het hierdie woorde beaam toe sy geskryf het: "Daar is 'n genialiteit daarin om invloedryke stemme van regoor die samelewing te versamel en hulle in 'n enkele storie te weef. Wanneer daardie briljantheid van 'n jong persoon kom, spreek dit boekdele oor wat moontlik is wanneer jeugdige energie in 'n doel geanker is".
25 Life Lessons @ 25 neem jou op 'n alfabetiese reis saam met 'n diverse groep unieke individue wat hul stories en wysheid deel. Thembalethu het die stories van teenspoed, triomf en transformasie vaardig saamgeweef: Daar is Erika, wat op 21 weggehardloop het van 'n kultus, die enigste wêreld wat sy ooit geken het. Jy reis saam met Marlene deur haar lewe met polio, en jy hoor die skare brul 'Beeeaast' wanneer Tendai Mtwarira sy ongelooflike geloof deel om elke dag aan te gryp en nie nog 'n statistiek sonder drome te word nie.
Dr. Imtiaz Sooliman, die nederige dienaar van Suid-Afrika se mense en stigter van Gift of the Givers, sê vir ons om die vloere te vee, kos te pak en die vragmotor te bestuur. "Daar is geen werk benede jou wanneer jy dien nie." Jy hardloop 'n marathon saam met Basani Maluleke en leer om eensaamheid te omarm. Terselfdertyd spoor die veelbekroonde digter, dramaturg, akteur en vervaardiger Siphokazi Mthathi ons aan om “bestorm die lewe asof dit 'n sagte rusbank is, en jy 'n roekelose kleuter; ontmasker jou vrese en jy sal ontdek dat perfeksie glad nie meer so interessant vir jou is nie."
Thembalethu se unieke vermoë om mense van alle vlakke van die lewe te verenig, was weer eens sigbaar tydens sy boekbekendstelling op 27 Junie 2025 by die Vineyard Hotel in Newlands. Vriende, familie, kollegas en sommige van die baanbrekers wat hy in sy boek bekendgestel het, almal mense wat 'n verskil in ander se lewens wil maak, het bymekaargekom om saam te vier.
“Ons is almal vanaand hier danksy een werklik spesiale persoon – en wat 'n merkwaardige Suid-Afrikaner het ons in Themba. Hy het die seldsame vermoë om mense bymekaar te bring rondom 'n gedeelde visie: 'n visie van die soort leierskap, doel en toekoms wat ons vir ons land wil hê," het die US se nuwe Rektor en Visekanselier, prof. Deresh Ramjugernath, een van die bydraers tot die boek, oor die geleentheid gesê.
Vir prof. Ramjugernath is Thembalethu iemand wat doel sien, potensiaal herken en weet hoe om albei met voorneme te belyn. “Die lesse wat hy deel, sal voortgaan om leierskap in hierdie land te vorm en die rigting wat ons as 'n nasie inslaan, te beïnvloed. Suid-Afrika het passievolle jong leiers soos Themba nodig – leiers wat bereid is om op te tree, hulle stemme te laat hoor en ons te help om die merkwaardige land te word wat ons almal weet ons kan wees," het hy gesê.
25 Life Lessons @ 25 is moeilik om neer te sit, so wanneer jy dit koop, wetende dat jy tot iemand anders se toekoms bydra, maak seker dat jy gemaklik sit, want jy sal vir 'n geruime tyd vasgenael sit en lees.
Alle opbrengste uit die verkoop van Themba se boek sal gaan na die Academic Inclusion Drive (AID) en #Action4Inclusion, want geen student wat 'n akademiese plek by 'n universiteit het, mag ooit uitgeskop word weens skuld nie. Hierdie boek is 'n kragtige stap in die rigting van daardie visie, soos Themba dit beskryf as "'n verbintenis om ander op te hef, 'n beter wêreld te bou en nooit op te hou wysheid soek nie".
Om die boek te koop: https://uhlangabooks.co.za
Of kontak: Zimkitha Macengulashe Zilo by 069 983 3838