Vanjaar vier die Universiteit Stellenbosch (US) 'n besondere mylpaal - ons tiende Tuiskomsviering vir alumni, wat van Donderdag 11 September tot Saterdag 13 September 2025 plaasvind.
Karen Bruns, Senior Direkteur Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, besin oor hoe dié tradisie oor die jare gegroei en ontwikkel het. “Tien jaar gelede het ons Universiteit Stellenbosch Tuiskomsnaweek as 'n eenvoudige idee begin: om weer kontak te maak, herinneringe uit te ruil, en ons gemeenskaplike band as Maties te vier. Vandag is dit 'n tradisie wat elke jaar net sterker word. Ons tiende Tuiskomsnaweek is meer as net 'n byeenkoms. Dit eer die herinneringe wat ons deel, die vriendskappe wat ons koester, en die trots wat ons voel om die US ons tuiste te kan noem."
Dit is ook prof Deresh Ramjugernath se eerste Tuiskoms as Rektor en Visekanselier. “Ek sien daarna uit om die Matie-gemeenskap te ontmoet wat voortgaan om die Stellenbosch-gees oor die hele wêreld te versprei," sê prof Ramjugernath. “Of jy nou verlede jaar of dekades gelede gegradueer het, ons sien julle almal graag weer. Kom herleef julle herinneringe, tel die bande op, en vier julle reis as deel van die Matie-familie."
'n Volgepakte program belowe om hierdie Tuiskoms onvergeetlik te maak.
Die Teatervertoning vier die teaterkuns met 'n vertoning onder regie van Nicole Holm, alumna en wenner van 'n Fleur du Cap-teatertoekenning, sowel as Mmatumisang Motsisi en Schalk van der Merwe, dosente in die Departement Drama.
Gholfliefhebbers kan uitsien na die Tuiskomsgholfdag wat jou geleentheid gee om bande met ou vriende en mede-alumni op te tel terwyl julle die pragtige Stellenbosch-gholfbaan geniet.
Een van die hoogtepunte is die Matie-wynmakersvertoning, waar ons 100 jaar van Pinotage vier. Meer as 20 topwynmakers, almal Maties, gaan hulle beste skeppings ter ere van hierdie ikoniese variëteit ten toon stel. Jou kaartjie sluit 'n wynglas en proekoepon in. Van die wynplase wat daar sal wees, sluit in Delheim, Kanonkop, Perdeberg, Die Laan, Bergsig en Beyerskloof. Moenie dié geleentheid misloop om van die bestes van die Suid-Afrikaanse wynwêreld te beleef nie.
Die Matieland Konsert, die spil waarom Tuiskomsnaweek draai, beloof om weer 'n onverbeterlike aand te wees wat die Endlersaal met musiek, skaterlag en Matie-gees vul. Vanjaar se kunstenaars sluit geliefde legendes én opkomende sterre in: Nataniël, meesterstorieverteller en musiek-ikoon, Margit Meyer-Rödenbeck, aktrise en komediant, Dean Smith, veelsydige akteur en kunstenaar, die Maties Jazzvereniging, alumni-groep Lyrica Nova, sopraan Sashon Johnson en pianis Karen Petersen.
Tuiskoms sou nie volledig wees sonder die talle koshuis- en klasreünies nie – spesiale geleenthede waar alumni saamkom om merkwaardige mylpale te vier. Vanjaar vier ons 'n hele reeks betekenisvolle oomblikke, insluitend die 100ste bestaansjaar van beide die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Departement Landbou-ekonomie, die 120ste bestaansjaar van Harmonie-koshuis, en 'n indrukwekkende 150 jaar van Maties Rugby.
Klik hier vir die volledige program en om jou kaarties te bespreek. Moenie die geleentheid misloop om deel te wees van hierdie vieringe nie – want waar die lewe jou ook al laat beland, jy het altyd 'n plek om na tuis te kom.