JEUGMAAND
Gedurende hierdie Jeugmaand vier ons studente wat positiewe verandering op die kampus, in hul gemeenskappe en verder bevorder. Deur hul leierskap, deernis en toewyding help hulle om ʼn beter toekoms vir Suid-Afrika te bou. Hierdie profiele laat die kollig val op die impak en energie van ʼn nuwe generasie studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat verandering bewerkstellig.
Vir Liam Gillesen, ʼn vierdejaar wat ʼn gekombineerde Baccelaureus-graad in rekeningkunde en ʼn Baccelaureus-graad in die regte aan die US studeer, begin leierskap waar titels eindig. Gillesen, wat in Pretoria grootgeword het, sê die waardes wat vandag steeds sy aktivisme rig, naamlik integriteit, diens en nederigheid, is tydens sy hoërskooljare aan Pretoria Boys High by hom ingeprent. “Ek was gedurende my grootwordjare ongelooflik bevoorreg," sê hy. “Daarom glo ek dis my plig om daardie voorreg te gebruik om ander te help wat dalk nie dieselfde geleenthede gehad het nie."
Sy werk op en buite die kampus weerspieël ʼn begeerte om tot Suid-Afrika se toekoms by te dra deur die waardes van ubuntu, empatie en aktiewe burgerskap uit te leef. Dié uitblinker op akademiese gebied was ook ʼn aktiewe Ambassadeur vir Sosiale Geregtigheid vir die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid, en het die US se Regskliniek met die koördinering van werksessies bygestaan. Voorts het hy as die Transformasiebeampte van die Juridiese Vereniging en as President van die studentetak van die Vereniging van Gesertifiseerde Bedrogondersoekers gedien.
“Ek is passievol oor gemeenskapsdiens, want ek was nog altyd lief vir mense," sê Gillesen. “Ek vind maklik aanklank by hulle. Ek haat dit om te sien hoe iemand sukkel of hartseer is."
Gillesen se reis die afgelope paar jaar as ʼn voorstander van sosiale geregtigheid was insiggewend. “Dit het my gehelp om te besef dat die lewe ryker buite jou klein borrel van voorreg is. Dit kan aanvanklik ongemaklik wees, maar dis die moeite werd."
Hoewel hy nie verlede jaar ʼn setel in die Verteenwoordigende Studenteraad verower het nie, het dié terugslag nie sy dryfkrag gedemp nie. “Ek moes opnuut oorweeg hoe ek steeds kan bydra sonder om in ʼn formele leierskapsposisie te wees," sê hy. Daardie oomblik van heroriëntering het ʼn katalisator vir sy huidige werk geword en het hom opnuut oortuig dat verandering nie met struktuur begin nie, maar met doelgerigtheid.
Stryd teen voedselonsekerheid
Gillesen is een van die stigterslede van die Maties-maaltydinisiatief, ʼn poging onder leding van studente om voedselonsekerheid op die kampus die stryd aan te sê. Wat begin het as ʼn eenvoudige idee om een maaltyd per dag aan honger studente te verskaf, ontwikkel geleidelik in ʼn gesamentlike veldtog wat etlike belanghebbendes betrek.
Danksy die aanvanklike steun van prof Stan du Plessis, die US se voormalige Hoofbedryfsbeampte, asook fondsinsamelingshulp van Maties Rugby deur kaartjieverkope by wedstryde, het die inisiatief reeds ʼn impak gemaak. “Ons wou ondersteun wat reeds bestaan en maniere vind om hierdie pogings te konsolideer," verduidelik Gillesen.
Hy praat geesdriftig oor ʼn oomblik tydens een van hul byeenkomste toe ʼn spreker hul werk hergeformuleer het as “solidariteit, nie liefdadigheid nie". Daardie frase het hom bygebly. “Ek wil hê mense moet sien dat om ander te help ʼn daad van solidariteit is. Wanneer ons die idee van ubuntu aangryp en saamstaan, kan ons betekenisvolle verandering teweeg bring."
Gillesen haal dikwels die Amerikaanse aktivis Angela Davis aan: “Ek aanvaar nie meer die dinge wat ek nie kan verander nie. Ek verander die dinge wat ek nie kan aanvaar nie."
Kundigheid in diens
Buite die US-kampus kombineer Gillesen sy regs- en sakevernuf met gemeenskapsontwikkeling deur sy betrokkenheid by die Kayamandi Imbadu-groep. Met die medewerking van die Agentskap vir die Ontwikkeling van Kleinsakeondernemings, help dié projek om vennootskappe te vestig om jeug-entrepreneurskap in Kayamandi te bevorder. Dis ʼn ruimte waarin Gillesen se belangstelling in die regte, rekeningkunde en sosiale geregtigheid perfek tot hul reg kom. “Die enigste manier waarop sosiale geregtigheid kan geskied, is as mense ekonomies bemagtig word," benadruk hy. “Entrepreneurs wat ondersteun word om volhoubare besighede te bou, geniet finansiële vryheid en waardigheid. Die Suid-Afrikaanse ekonomie sal net groei as almal ʼn behoorlike kans in die lewe gegun word."
Gemeenskapsbetrokkenheid het nie net sy wêreldbeskouing verbreed nie, maar ook sy leierskapswaardes verdiep, sê Gillesen. “Toe ek jonger was, het ek altyd opgesien na die groot name soos Nelson Mandela en Barack Obama. Maar nou is die mense wat ek die meeste bewonder diegene wat stilweg en sonder enige erkenning in hul gemeenskappe werk. Dis die vroue wat sopkombuise bestuur of die man wat elke dag wakker word om sy buurt te herstel. Húlle is die ware helde."
Toe hy gevra is watter verandering hy deur sy pogings wil bewerkstellig, het Gillesen tussen kort- en langtermyndoelwitte onderskei. “My grootste prioriteit terwyl ek nog op die kampus is, is om te help seker maak dat elke student ten minste twee ordentlike maaltye per dag kry, sodat hulle nie oor kos bekommerd hoef te wees nie. Waarvoor ek op lang termyn hoop, is dat ons verdeeldheid in Suid-Afrika kan beëindig sodat ons almal saam kan werk en ons gemeenskaplike menslikheid kan erken. Daar is soveel verdeeldheid, en ons politieke stelsel laat ons glo dat ons ʼn kant móét kies. Ek sou graag ʼn rol wou speel om mense byeen te bring en almal te laat insien hoeveel ons ondanks ons verskille gemeen het."
'Hou net aan probeer'
Gillesen se leierskapsfilosofie is ook geïnspireer deur sy wyle oupa, wat ʼn lewe van stil, konsekwente diens gelei het. “Hy was ʼn diensbare leier. Hy het altyd gesê: 'Moenie leierskapsrolle net vir titels najaag nie. Dien sonder ʼn titel.'" Daardie wyse woorde rig Gillesen nou in al sy pogings, insluitend sy mentorskaprolle en sy openbare praatjies oor sosiale geregtigheid.
Sy raad aan ander aspirant-leiers is om soveel ondervinding moontlik op te doen en nie van uitdagings weg te skram nie. “Sommige probleme lyk dalk te groot om op te los, maar hou net aan probeer. Die alternatief is om op te gee en dit is veel meer vreesaanjaend! Moenie die status quo aanvaar nie en moenie toelaat dat enigiemand jou afskrik om enigiets te doen nie. Jy kan nie verandering op jou eie teweeg bring nie. Die enigste manier om iets blywends te bou is om saam te werk," hou hy vol.
FOTO: Stefan Els
GRAFIKA: Geola Bergman