Image Credit
Met Suid-Afrika se rekordvlak van werkloosheid onder die jeug en beperkte toegang tot professionele afrigting, kan KI-aangedrewe afrigting ʼn transformerende oplossing bied.
Professor Nicky Terblanche, hoof van Leierskapsafrigting by die Stellenbosch Bestuurskool, is besig met baanbrekersnavorsing oor hoe kunsmatige intelligensie jong mense en kleinsake-eienaars deur toeganklke, verpersoonlikte selfontwikkeling en persoonlike groei kan ondersteun.
“KI-afrigting het die potensiaal om ontwikkeling op skaal te demokratiseer,” sê prof Terblanche. “Vir talle jong Suid-Afrikaners wat nie toegang tot ervare mentors of loopbaanafrigters het nie, kan KI die gestruktureerde ondersteuning bied wat hulle nodig het om vorentoe te beweeg.”
In teenstelling met tradisionele mentorskap, wat gewoonlik die oordrag van kennis van ʼn kenner na ʼn leerder behels, fokus afrigting, veral in die konteks van sielkundige en volwasse leer, op die bemagtiging van individue deur selfbesinning en oplossinggerigte denke.
“Die onderskeid tussen afrigting en mentorskap is van deurslaggewende belang,” verduidelik Prof Terblanche. “Afrigting sê nie vir jou wat om te doen nie. Dit help jou om dit vir jouself uit te werk en dit lei tot gedragsverandering oor die langer termyn.”
Prof Terblanche het reeds uitgebreide navorsing saam met magister- en doktorale studente gedoen, met inbegrip van medewerking met akademici in Duitsland en die VSA. Hy en sy span het KI-afrigtingshulpmiddels, waaronder ‘Coach Vici’, wat mentorskapelemente met wetenskapsgefundeerde afrigtingsbeginsels kombineer, ontwikkel.
In ʼn onlangse gerefereerde studie wat verskillende kletsbotte se afrigtingstyle vergelyk het, met inbegrip van doelgebaseerde, oplossingsgerigte en kognitiewe gedragbenaderings, was die kognitiewe gedragsmodel die doeltreffendste in die ontwikkeling van gebruikers se emosionele intelligensie.
“Dit was ʼn onverwagte en opwindende uitkoms,” sê prof Terblanche. “Dit dui daarop dat KI meer kan doen as om mense met doelbereiking te help, of loopbaanbesluite te rig – dit kan gebruikers help om onbehulpsame denkpatrone te hervorm en noodsaaklike sagte vaardighede, soos veerkragtigheid en emosionele intelligensie, op te bou.”
In proefprogramme met jong entrepreneurs en eienaars van klein en medium ondernemings (KMO’s) was die terugvoer oorweldigend positief. Deelnemers het tradisionele sakeopleiding, gevolg deur kletsbotgebaseerde afrigtingsteun, ontvang. “Hulle het gemeld dat hulle meer gemotiveerd, meer selfversekerd en meer geondersteun gevoel het deur ʼn hulpmiddel wat 24/7 beskikbaar is,” sê prof Terblanche.
Daar is egter steeds uitdagings. Een probleem is dat baie KI-modelle op globale datastelle geskool word, wat dit minder responsief teenoor die Suid-Afrikaanse kulturele konteks maak. “Ons het belegging nodig om hierdie hulpmiddels te lokaliseer,” sê Prof Terblanche. “Die ‘aptyt’ is daar, maar ons benodig openbare-private-vennootskappe en nasionale finansieringsteun om dit werklik skaalbaar en plaaslik relevant te maak.”
Hy moedig belanghebbendes, waaronder die Nasionale Vaardigheidsfonds en Sektoronderwys- en -opleidingsowerhede (SETA’s), om KI-afrigting in nasionale ontwikkelingstrategieë te prioritiseer. “Dit is nie ʼn toekomsvisie nie – dit gebeur al klaar. Afrigtingstoepassings word reeds, op grond van plaaslike navorsing, in Suid-Afrika ontwikkel. Wat ons nou nodig het, is skaal.”
In die aanloop tot Jeugdag vra prof Terblanche vir ʼn nasionale gesprek oor hoe menslike ontwikkeling deur KI aangevul kan word, en nie daardeur vervang nie. “Ons praat nie oor die masjiene wat oorneem nie,” sê hy. “Ons praat oor hulpmiddels wat die mense wat tans glad nie bereik word nie, kan bereik.”