Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Likhona Tokota: Musikale talent tot voordeel van ander
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Pamela Kierman)
Gepubliseer: 12/06/2025

​JEUGMAAND

Gedurende hierdie Jeugmaand vier ons studente wat positiewe verandering op die kampus, in hulle gemeenskappe en verder bevorder. Deur hulle leierskap, deernis en toewyding help hulle om ʼn beter toekoms vir Suid-Afrika te bou. Hierdie profiele laat die kollig val op die impak en energie van ʼn nuwe generasie studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat verandering bewerkstellig.

Likhona Tokota, ʼn meestersgraadstudent in musiekuitvoering aan die US, maak opslae in die musiekwêreld as ʼn begaafde tubaspeler. Maar hy verpersoonlik ook die gees van terugploeg. Nadat hy voordeel getrek het uit die vrygewigheid van mense wat sy opleiding as jong musikant ondersteun het, gebruik Tokota nou sy talent om ander te dien. Hy onderrig koperblaasinstrumente aan leerders in gemeenskappe met min hulpbronne en help om selfvertroue, bande en kreatiwiteit deur musiek te bou.

Sy ouers is Philiswa en Luvuyo Tokota, wat sterk bande met Cofimvaba en Tsholomnqa in die Oos-Kaap het, en hy is in Gugulethu in Kaapstad gebore. Dit was sy ma se woorde wat hom van jongs af gevorm het: “Onderwys is vryheid, en musiek is deel van ons identiteit."
Melanie Fryer, sy ma se destydse werkgewer, het gehelp om Tokota op agtjarige ouderdom by die Beau Soleil-musieksentrum in te skryf, waar hy begin het om die kornet te bemeester. Hy was skaam en teruggetrokke en het gesukkel met selfvertroue en toewyding. Maar toe ʼn tuba nodig was, het alles verander. “Ek was ʼn mollige kind en het van die grootte van die tuba gehou," lag hy. “En toe ek die klank hoor, het dit liggaamlik en emosioneel by my weerklank gevind."

Hy vind sy stem deur musiek

Dit was moeilik om die lywige instrument op openbare taxi's te vervoer, maar Tokota het volhard. Hy het uitgeblink onder die mentorskap van sy eerste tuba-onderwyser, Shaun Moir, het Beau Soleil se hoof-tubaspeler geword en het die Matriekprys vir die Mees Belowende Musiekstudent in sy graad 12-jaar verwerf.

Pamela Kierman, die koperblaasdosent in die Departement Musiek, het Tokota se talent raakgesien en hom aanbeveel vir ʼn beurs van die Wheatfield Trust onder die bestuur van Stemray Lesch, eggenoot van Felicia Lesch, koördineerder van die Sertifikaatprogram van die Departement Musiek aan die US. Dit het Tokota in staat gestel om sy skoolopleiding in Kaapstad te voltooi en sy Sertifikaatprogram-studies in Stellenbosch voort te sit. Daar is hy onderrig deur wyle Sean Kierman, die legendariese Suid-Afrikaanse koperblaasdosent.
“Sean was meer as ʼn tubamentor," vertel Tokota. “Hy het my dissipline en kritiese denke geleer, maar ook om musiek as ʼn lewenslange reis te sien." In Maart 2024 het Kierman gehelp met die skenking van ʼn tuba van een van sy voormalige studente, Tobie van Heerden, eens hoof-tubaspeler van die nou ontbinde Nasionale Simfonie-orkes. Dit het ʼn groot finansiële struikelblok vir Tokota uit die weg geruim, want tubas is onbetaalbaar duur in Suid-Afrika.
In die Sertifikaatprogram is Tokota bekroon met die Albert Engel-prys, genoem na wyle Albert Engel, Stellenbosch se eerste heeltydse koperblaasdosent. Dié prys vereer studente wat Engel se gees van uitnemendheid en diens aan die gemeenskap vergestalt – eienskappe wat Tokota in sy studies én in die opleiding van ander uitleef.
In 2023 het Tokota ook ʼn Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie in die kategorie vir Akademiese Uitnemendheid in Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang.

'n Nuwe generasie

Vandag sit Tokota hierdie nalatenskap voort deur elke Saterdagoggend tuba, eufonium en tromboon by die Ronnie en Eileen Musiekprojek in Kuilsrivier te onderrig, asook by die Hoërskool Durbanville en die South African College High School, waar hy die volgende generasie koperblaastalent koester.
Musiek het die unieke vermoë om mense byeen te bring, glo Tokota. “Of dit nou is deur in ʼn koor te sing, instrumente in ensembles te bespeel of musiek sosiaal te deel, word bande deur hierdie gedeelde ervarings gesmee en ʼn gevoel van tuishoort bevorder."
As musikus streef hy daarna om hindernisse af te breek en gemeenskap te bou. “Ek probeer my onderrig- en uitreikwerk gebruik om koperblaasinstrumente meer toeganklik te maak en mense van alle lewenslope aan te moedig om betrokke te raak. Hetsy deur werksessies, mentorskap of deur net in verskillende ruimtes teenwoordig te wees, wil ek help om die koperblaasgemeenskap meer inklusief te maak en saam te bind."
In 2024 is hy deur die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees gekies om skaduwerk saam met prof Mark Hampson (van die Robert Schumann Hochschule in Düsseldorf) te doen. Dit het in April 2025 gelei tot ʼn reis na Duitsland en Switserland vir lesse en ensemblewerk saam met Hampson, Hugues Spielmann en Anne Jelle Visser.
As ʼn ad hoc-tubaspeler het Tokota saam met die Kaapstadse en KwaZulu-Natalse Filharmoniese Orkes en die Vrystaatse Simfonie-orkes opgetree. As solis het hy saam met die US- en Johannesburgse Filharmoniese Orkeste gespeel en by die onlangse Classics for All-fees in Greyton ʼn staande ovasie vir sy uitvoering van “Fnugg" saam met die WindWorx Simfoniese Blaasensemble ontvang.
Hy skryf die sukses van sy reis toe aan sy ma se vasberadenheid, sy onderwysers se toewyding en sy eie harde werk. Terwyl ander kuier, oefen Tokota ure lank. “Jy hoef nie alles te hê nie," sê hy. “Net een of twee mense wat in jou glo – en die wil om in jouself te glo."
Sy boodskap aan aspirant-musici is dat hulle agtergrond nie hulle toekoms moet bepaal nie. “Die musiekwêreld het jou stem nodig," sê hy.

FOTO: Stefan Els
GRAFIKA: Geola Bergman