Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof James Warwick verken nuwe grense in navorsing oor kerngeneeskunde
Outeur: Corporate Communication and Marketing
Gepubliseer: 11/06/2025

Prof James Warwick, uitvoerende hoof van die Departement Mediese Beelding en Kliniese Onkologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch, het Dinsdag 10 Junie 2025 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was 'Van die veelteller tot teranostiek: 'n verhaal van kerngeneeskunde'.

Warwick, wat ook aan die hoof van die Afdeling Kerngeneeskunde by die FGGW staan, het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy navorsing in kerngeneeskunde help om die behandeling van kanker en ander siektes te verbeter.

Vertel ons meer oor jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke vakgebied begin belangstel het.

Ek het eers fisika en toegepaste wiskunde gestudeer voordat ek oorgeslaan het na geneeskunde. Kerngeneeskunde (die gebruik van onverseëlde stralingsbronne om siektes op te spoor en te behandel) was 'n manier om die twee belangstellings te kombineer. My navorsing het tot dusver op funksionele breinbeelding ('n tipe breinskandering wat wys hoe die brein intyds werk), toepassings van positronemissietomografie-rekenaartomografie (PET/CT—'n gedetailleerde mediese skandering wat twee soorte beelding kombineer om dokters 'n duideliker beeld te gee van wat in die liggaam gebeur) en die meting van nierfunksie gefokus.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Kerngeneeskunde is 'n geneeskundige spesialiteitsgebied wat dikwels binne én buite die mediese gemeenskap verkeerd verstaan word. Ons bied ondersoeke en terapieë wat 'n integrale deel van die bestuur van 'n diverse groep pasiënte is, veral maar nie beperk nie tot kankerpasiënte.

Wat is van die belangrikste bydraes van kerngeneeskunde tot moderne gesondheidsorg?

Moderne kerngeneeskunde verteenwoordig 'n samekoms van baanbrekerswerk deur die hele 20ste eeu, toe radioaktiewe verbindings vir die eerste keer in die geneeskundige wetenskap toegepas is. Die vakgebied het uit hierdie vroeë ontwikkelings deur interaksie met en leen uit verwante vakgebiede tot 'n dinamiese gebied in moderne gesondheidsorg gegroei.

Beeldingstegnologie het van die aanvanklike gebruik van die betreklik basiese veelteller ('n eenvoudige, ouer masjien wat gebruik word om straling van verskeie bronne of monsters gelyktydig op te spoor en te meet) tot die hedendaagse hibridiese stelsels gevorder wat uitsonderlike anatomiese en funksionele detail bied. Danksy vooruitgang in biochemie en radiofarmasie ('n spesialisgebied in apteekwese wat op die voorbereiding, gehalteversekering en veilige reseptering van radioaktiewe medisyne fokus wat gebruik word om siektes, veral kanker, te diagnoseer of te behandel) kan sellulêre prosesse nou gevisualiseer en presisieterapieë met minder newe-effekte toegedien word.

Onlangse bydraes sluit in uiters sensitiewe beelding vir die opsporing van aktiewe kanker en die behandeling van sommige kankers met behulp van geteikende radioterapie—'n kankerbehandeling wat hoë-energie strale (soos X-strale) gebruik om kankerselle dood te maak en gewasse te laat krimp.

Kan jy 'n paar groot tegnologiese deurbrake in kerngeneeskunde uitlig?

Die voortdurende verbetering van PET/CT-skandeerders, insluitend digitale PET- en heelliggaamskandering; en die ontwikkeling van nuwe molekules om siektes te teiken soos PSMA- (prostaatspesifieke membraanantigeen) spoorsnyers wat gebruik word om prostaatkanker (teranostiek) te diagnoseer en te behandel.

As jy 'n voorspelling moet maak, watter ontwikkelings sien jy op die gebied van navorsing in kerngeneeskunde?

Die ontwikkeling van nuwe verbindings wat die beelding en behandeling van ander kankers en siektes moontlik sal maak.

Jy is al baie jare in die uitdagende omgewing van hoër onderwys. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

Om jongmense wat die vakgebied betree, te ontmoet en saam met hulle te werk, asook om hulle nuwe idees te deel.

Watter aspekte van jou werk is vir jou die lekkerste?

Dit is 'n baie dinamiese vakgebied. Selfs in die tyd wat ek in kerngeneeskunde gewerk het, bly die aard van ons werk ontwikkel met nuwe studies en terapieë wat beskikbaar word.

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.

Wanneer die tyd dit toelaat, probeer ek 'n baie klein bydrae lewer tot die restourasie van 'n stoomlokomotief wat uit 1922 dateer.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Wanneer ek kan, probeer ek om op Tafelberg te stap.

  • Foto deur Ignus Dreyer​