Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hakeemah Matinka: Dapper neem sy die voortou
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 11/06/2025

​JEUGMAAND

Gedurende hierdie Jeugmaand vier ons studente wat positiewe verandering op die kampus, in hul gemeenskappe en verder bevorder. Hulle help deur hulle leierskap, deernis en toewyding om ʼn beter toekoms vir Suid-Afrika te bou. Hierdie profiele laat die kollig op die impak en energie van ʼn nuwe generasie studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) val wat verandering bewerkstellig.

Vir Hakeemah Malaykah Matinka is sigbaarheid ʼn vorm van weerstand. As ʼn queer, bruin Moslemvrou het sy nooit netjies in die kategorieë ingepas wat dikwels in institusionele ruimtes gehandhaaf word nie. Maar eerder as om haarself “kleiner te maak" om aan verwagtinge te voldoen, het Matinka ʼn weg van leierskap gebaan wat op deernis, moed en voorspraak gegrond is.

As ʼn honneursstudent in onderwysontwikkeling en demokrasie het Matinka op die voorgrond getree as die stigtersprimaria van Walter Parry House, die US se nuutste senior koshuis. Daar bou sy wat sy beskryf as “ʼn tuiste wat in geregtigheid, tuishoort en transformasie veranker is".

Om ruimte op te eis en verandering teweeg te bring

Sy is die oudste van tien kinders uit ʼn arm gemeenskap, en Matinka sê daar was nog altyd hoë verwagtinge vir haar gestel om te slaag en as ʼn eerstegenerasie-student ʼn beter toekoms vir haar gesin te bied. “Ek het met die verwagtinge geworstel om die weg vir my broers en susters en my enkelma te baan."

Haar passie vir aktivisme spruit uit persoonlike ervaring, verduidelik sy. “Om as ʼn queer, bruin Moslemvrou groot te word, het beteken ek moes my weg deur verskeie stelsels vind wat my dikwels onsigbaar laat voel het. Maar ek het van jongs af geweet dat my stem invloed het, al het dit ander ongemaklik laat voel.

“My skoolreis, soos dié van baie ander wat soos ek lyk, is deur gapings in die stelsel gekenmerk. Maar ek het nie toegelaat dat daardie gapings my insluk nie. Ek het dit as motivering gebruik om ruimte te skep – eers vir myself, en toe vir ander."

Matinka se akademiese fokus as onderwysstudent is nou aan haar aktivisme gekoppel, met ʼn sterk klem op sistemiese transformasie eerder as simboliese gebare. “Ek glo in die bevrydingskrag van onderwys," sê sy. “Die meisietjie in my, die een wat haarself nie altyd in boeke of onderwysers of leierskap gesien het nie, verdien om te weet dat sy toe al die tyd behoort het."

Later vanjaar gaan Matinka aan ʼn prestigeryke internasionale geleentheid deelneem. Sy is een van slegs vyf studente-afgevaardigdes uit duisende aansoekers wat gekies is om Suid-Afrika in Augustus by die G20-jeugberaad in Johannesburg te verteenwoordig. Die Y20 is die G20 se amptelike deelnamegroep onder leiding van die jeug.

As verteenwoordiger van die tema oor Inklusiewe Maatskaplike Ontwikkeling en die Bekamping van Ongelykheid, sal sy tot gesprekke oor globale beleide bydra, met die fokus op kwessies soos menstruasie-armoede en ontwikkeling onder leiding van die jeug. “Dis ʼn ruimte waar ek kwessies wat gemarginaliseerde gemeenskappe veral in die Globale Suide raak, kan opper en kan verseker dat ons stemme in internasionale besluitneming ingesluit word," sê sy oor haar rol by die beraad.

Leiers wat luister

Matinka het voorheen die QueerUS-vereniging op die kampus laat herleef. Sy was die voorsitter voordat sy ʼn strategiese adviserende rol ingeneem het. Onder haar leiding het die vereniging ʼn uiters belangrike ondersteuningstruktuur vir queer-studente geword.

By Walter Parry House lei sy ʼn Huiskomitee met ʼn visie vir inklusiewe, bevestigende koshuiskultuur waar studente met 'n gemarginaliseerde identiteit verwelkom en nie net verduur word nie. Sy sê sy het besluit om leiersrolle te beklee toe sy besef het hoeveel studente mismoedig is en voel dat hulle nie gehoor word nie.

Die lonendste aspek om van voor af te lei is wanneer mense voel dat hulle raakgesien word, sê Matinka. “Wanneer ʼn student vir my sê dat ʼn ruimte wat ek help skep het, uiteindelik soos ʼn 'tuiste' voel, of wanneer iemand wat nooit gedink het hulle sou in die openbaar praat nie, selfversekerd oor die mikrofoon praat, besef ek dit was die moeite werd."

Maar die reis eis soms 'n tol​. “Institusionele weerstand en uitbranding bly voortdurende uitdagings en verandering is stadig," erken sy. “Om teen die stelsel op te staan kan uitputtend wees."

Geanker deur gemeenskap

In tye van onsekerheid is Matinka se ma haar steunpilaar. “My ma se veerkragtigheid en sterkte hou my aan die gang. Ek was ook gelukkig om maats te hê wat my uitdaag om te groei en vir my ruimte gun wanneer ek rus nodig het. Hulle solidariteit herinner my daaraan dat ek nie hierdie werk alleen hoef te dra nie," sê sy met ʼn dankbare glimlag.

Wanneer vooruitgang ver voel, anker sy haarself in die herinnering aan diegene wat voor haar gekom het, asook die wete dat sy ook ʼn rolmodel is. “Om te weet dat iemand daar buite kyk – iemand wat jonger, is, iemand wat bang is, iemand wat na hoop smag – motiveer my. Ek herinner myself daaraan dat selfs klein aksies uitkring."

Haar raad aan ander studente wat ook ʼn verskil wil maak, is eenvoudig: “Begin waar jy is, met dít wat jy het. Jy het nie ʼn titel of ʼn platform nodig om verandering teweeg te bring nie. Luister aandagtig, laat jou stem opklink wanneer jy kan, en onthou dat konsekwentheid belangriker as perfeksie is. Laat jou impak met jou waardes strook, en moenie bang wees om hulp te vra nie."

Of dit nou in koshuise, beleidsforums of stil gesprekke met studente is wat voel hulle moet raakgesien word, lewer Matinka ʼn bydrae om te herdefinieer hoe verandering op ʼn Suid-Afrikaanse kampus kan lyk – nie as ʼn ideaal vir die verre toekoms nie, maar as ʼn geleefde praktyk.

FOTO: Stefan Els
GRAFIKA: Geola Bergman